Hekmotordief het dalk in skerp lem op muur getrap
Iewers hinkepink ’n hekmotordief, want hy het hom vasgeloop in lemmetjies op 'n muur.
Een van die hekmotordiewe wat laasnag in Dennesig toegeslaan het, het waarskynlik in ’n staallem op ’n muur getrap.
“Dit lyk of die lem deur sy voet gesteek het,” het ’n inwoner van Dennesig, wat anoniem wil bly, vanoggend gesê.
Die hekmotordiewe was die afgelope twee aande geweldig bedrywig in Dennesig en het hulle laasnag twee keer by dié huis ’n hekmotor probeer steel.
“Ek het ’n 60cm muurtjie om die nuwe motor gebou. Hulle het 02:30 en 03:00 probeer om die hekmotor te steel, maar albei kere het die alarm afgegaan. Die diewe het ’n deel van die muurtjie ook afgebreek.”
Na aanleiding van die modder van skoene by die staallemmetjies op die muur, lyk dit vir hom of een van die diewe bo-op een van die lemme getrap het. “Dit lyk of dit diep in sy voet ingegaan het. Almal moet maar uitkyk vir ’n kruppel ou!”
Hy het gesê dat sy alarmmaatskappy vir hom ’n alarm op sy hek-ogies gekoppel het. “Die meeste nuwe hekmotors kan dit akkommodeer.” Volgens sy alarmmaatskappy is daar verlede week ses hekmotors in Kanonkop en Dennesig gesteel waarvan hulle weet.
Tussen gister en vandag is daar in die vroeë oggendure hekmotors gesteel in Spioenkop (tweede maal), Kanonlaan (waar die gesin se hond ook verdwyn het) en by ’n meenthuiskompleks in Dennesig.
- Die Observer is besig om ’n databasis op te bou van hekmotors wat gesteel is sedert die begin van Januarie. As die ses waarvan melding gemaak word, bygetel word, is daar meer as 50 hekmotors al gesteel, waarvan die meeste in Kanonkop.
- As jou hekmotor gesteel is, stuur ’n boodskap met jou naam en van en die adres waar die hekmotor gesteel is na 072 248 3855.