KYK: Motorfietsryers bid dat mure van sonde en ander boosheid sal val met ‘Jericho Ride’
Net soos Jerigo se mure is daar met die ‘Jericho Ride’ by die ingange van die dorp gebid dat die muur van sonde in Middelburg sal val.
’n Groep motorfietsryers van Middelburg het Saterdag by al die ingange van Middelburg gestop en vir die gemeenskap gebid.
Hulle het eers by die Kees Taljaard Stadion byeengekom waar Olivia Jansen van Rensburg (MACS Ministries) vir almal leiding gegee het waarvoor om te bid.
Sy het gesê dat daar gebid moet word vir huwelike, teen al die misdaad in die dorp, asook ander probleme wat Middelburg teister.
Voor hulle na al die ingange vertrek het, het sy ’n gebed gedoen en God gedank vir dié wat opgedaag het soos die handjievol soldate van Joshua.
Die ‘Jericho Ride’ het sy ontstaan uit die Bybelse verhaal van Joshua en sy manskappe wat vir ses dae om die stad Jerigo geloop het en die sewende het Jerigo se mure geval. “So wil ons die duiwel ook uit ons dorp verdyf en die mure van sonde laat val,” het Olivia gesê.
