Alle oë op jong Aldrich Potgieter
Goeie rede om wakker te bly vir Amerikaanse Meesters gholftoernooi.
Daar is ’n goeie rede waarom Suid-Afrikaners hulle slaap gaan opoffer, om die Amerikaanse Meesters gholf kampioenskappe te volg: Aldrich Potgieter.
Die oud Middelburger, wat deesdae sy tuisdorp as Mosselbaai aandui, speel in sy tweede Meesters.
Hy en sy familie het op ’n stadium op Middelburg gewoon en die gesin is steeds geliefd op die dorp.
Potgieter begin sy tweede Meesters en sy eerste sedert 2023. Die 2025 PGA-toer-nuweling van die jaar het verlede Junie in Detroit gewen, om sy eerste loopbaan-PGA-toer-oorwinning te behaal.
Hy het ook verlede jaar tweede geëindig in die Mexiko Ope en T-6 in Fort Worth. In 2024 het hy die Korn Ferry-toer se jongste wenner geword toe hy ‘n toernooi in die Bahamas op die ouderdom van 19 jaar, 4 maande en 11 dae gewen het. In 2022, op die ouderdom van 17, het hy die Amateurkampioenskap by Royal Lytham & St Annes in Engeland gewen en sy groot kampioenskapsdebuut in die Ope by St Andrews gemaak.
In 2022 was hy ‘n lid van die Internasionale Junior Presidentsbeker-span.
Hy het sy lewenstyl hierdie jaar verander en volgens sy pa, Heinrich, het hy 13 kilogram afgeskud.
Rory McIlroy het die toernooi verlede jaar gewen.
Suid-Afrikaanse gholfspelers het ’n liefde vir die toernooi met Gary Player wat in 1974 gewen het.
Trevor Immelman het die Meesters in 2008 gewen en Charl Schwartzel in 2011.
Die toernooi begin later vanaand (Woensdagaand) of Donderdag Amerikaanse tyd.
