KYK: Grassnyer van honderde duisende rande in brand vernietig
Brandblussers help min toe dennenaalde vlamme vinnig laat versprei.
’n Grassnyer wat spesiaal gebruik word op gholfbane, het vanmiddag tot as verbrand, op die Middelburg Buiteklub se gholfbaan.
Alhoewel die grassnyer al lank in bedryf is, is dit vervangingswaarde ongeveer R700 000 tot R800 000.
’n Werker was besig om oor dennenaalde te sny, toe daar skielik vlamme onder die grassnyer uitgekom het.

Die grassnyer was binne sekondes in vlamme gehul.
Die baanopsigter, Johan Otto, en ander personeel van die Buiteklub het hulle na die brand gehaas.
Verskeie brandblussers is leeg gespuit om die ergste vlamme onder beheer te kry maar die dennenaalde het soos petrol gebrand.
’n Denneboom het ook aan die brand geraak.
Omstanders het hulle boeglam geskrik toe daar ’n ligte ontploffing was.
Die brandweer was vinnig op die toneel maar teen daardie tyd was die grassnyer onherstelbaar beskadig.
Die brandende grassnyer het’n skare in Leipoldtstraat gelok, wat gekyk het hoe is daar meer aksie as die paar sosiale gholfspelers op die baan.
