NewsSport

Groot Ben uit Varsitybeker eindstryd

Vlokkie begin op senter vir Tukkies teen die NWU Arende

Groot Ben Jansen van Vuuren is uit die Varsitybeker eindstryd vanaand om 19:00 op die LC de Villiers Stadion in Pretoria.
Dit is ’n gevoelige slag vir die Pretoriase studente.

Varsitybeker droom beëindig

Jansen van Vuuren was al die speler wat rock en het verlede week teen die Universiteit Johannesburg ’n belangrike losbal gewen.
Sy groot lyf woel in die losgemale.
’n Skouerbesering wat hom al drie weke pla, het sy Varsitybeker droom beëindig.
Hy was op skool ’n skitterende losvoorspeler vir die eerstespan van Hoërskool Middelburg.

Voorspelers vernietigend

Tukkies speel teen die omgesukkelde span van die Noordwes Universiteit, die NWU Arende.
Die pak voorspelers van die Potchefstromers was die seisoen vernietigend en daar word verwag dat hulle Tuks veral in die skrums en dryfbewegings gaan boelie.

Oorweldigende gunstelinge

Die agttal word afgerig deur Chaka Willemse wat in sy speeldae vir die Pumas nie nonsens gevat het van kabouters nie.
Dieselfde gesindheid waarmee die Arende hierdie jaar speel.
Voeg daarby die losskakel MJ Mostert wat met sy kanonvoet spel dikteer en dit gaan ’n gekners van tande wees vir Tukkies.
Die Arende het reeds vroeër die seisoen met Tuks afgereken.
Hulle het verlede week ’n massiewe vertoning teen Maties gelewer, wat hulle oorweldigende gunstelinge vir die eindstryd maak.

Laaste Varsitybeker wedstryd

Die oud HTS Middelburg senter, Christiaan Vlok, speel in sy laaste Varsitybeker wedstryd. Hy het hierdie jaar die ouderdomsperk bereik vir die reeks.
Hy is op senter gekies in die opdrafspan.
Indien Tuks wen, maak hy geskiedenis.
Die Pretorianers het saam met Maties reeds vyf titels ingepalm.
Interessant is dat die oorwinnings almal teen Kaapse spanne was, Maties of Ikeys.

Sterk teruggekom

Tuks het sy eerste titel in 2011 verower, deur Ikeys met 16-26 te klop.
Hy het die kroon ook in 2012 en 2013 gedra.
In 2017 klop hy Maties met 28-21 en maak weer so in 2019 12-34 en 2021 teen Ikeys met 34-27.
Hy het sy laaste titel in 2022 gewen, met ’n 29-23 oorwinning oor Maties.
Nadat hy afgeskuif is na die Skildafdeling het hy in 2026 sterk teruggekom en wag nou om die rekordboeke te herskryf.

Kaartjies vir die eindsttyd is reeds twee weke gelede uitverkoop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Check Also
Close
Back to top button