Stropers sak toe op biertrok wat in pad lê
Stropers het teen ligdag kratte bier begin steel by n trok wat omgeslaan het op die N11 tussen Hendrina en Ermelo. Foto: Verskaf.
’n Trok wat kratte bier vervoer het omgeslaan op die N11 net buite Hendrina en is stropers besig om die kratte bier weg te dra.
Middelburgers wat pendel in Ermelo se rigting, het vroeg vanoggend op die plaaslike Traffic Alert WhatsApp-groep gewaarsku dat die trok sowat 10km buite Hendrina dwars oor die pad lê en dat slegs een baan oop is vir verkeer.

Die ongeluk het omstreek 02:40 gebeur en het Van Wettens (Ermelo-tak) bevestig dat die trok steeds in die pad lê. Daar word gewag vir ’n ander insleepdiens om die trok te gaan verwyder.

Na wat verneem word, het die trok uitgeswaai vir iets in die pad, waarna dit omgeslaan het. Die bestuurder van die trok het nie beserings opgedoen nie. Die aflosbestuurder het ligte beserings opgedoen en is per ambulans hospitaal toe geneem.

