‘Koerantvrou’ neem glo foto’s van man en hondjie
'n Persoon wat haar voorgedoen het as 'n joernalis van die koerant, het foto's en videos van 'n man en sy hondjie geneem.
‘n Egpaar is hoogs ontstoke oor ‘n vrou ‘wat haar voorgedoen het as ‘n werknemer van die Observer’ wat sonder toestemming foto’s van die man en hul hondjie geneem het.
Kort daarna het ‘n ander persoon by hom gestop en hom beskuldig dat hy die hond gesteel het.
Deon en Wendy Lombard was só omgekrap dat Wendy die Observer vanmiddag geskakel het en gedreig het met regstappe. Die persoon wat die foto’s en videos geneem het, is egter nie ‘n werknemer van die Observer nie.
“Die vrou wat die foto’s en video van Deon geneem het vir hom gesê sy werk vir die Observer en dat sy die hondjie wil koop. Sy het hom R1 500 vir die hond aangebied.” Deon het haar verseker dat hy nie vir Pokkels, hul mopshond (pug) wil verkoop nie en is huis toe.
‘n Rukkie later het hy afgestap in Hoogstraat in OK Grocer Mineralia se rigting om vir hulle iets te gaan koop om te eet.
Deon het net ‘n entjie in die straat afgestap toe daar weer ‘n voertuig, dié keer ‘n Toyota Land Cruiser, langs hom stop. ‘n Vrou het vir hom gevra waar is die hond en hy het genoem dat sy hond by die huis is.
Daarna het sy hom beskuldig dat hy die hond gesteel het, want daar is foto’s gedeel (wat die ander persoon in die Mercedes waarskynlik geneem het) van hom en die hond en daar word geïmpliseer dat hy die hond gesteel het. Hy het vies vir haar verduidelik dat dit beslis sy hond is.
Wendy meld kwaad dat hulle vir Pokkels destyds vir haar ma gekoop het, toe sy haar bene verloor het. Haar ma het op ‘n stadium vir haar die hondjie teruggegee. “Ons het al vir meer as vyf jaar vir Pokkels en het selfs sy veeartskaart.” Sy noem dat haar moeder ook intussen oorlede is.
Wendy het buiten ‘n foto van hoe Pokkels nou lyk, ook ‘n foto gestuur toe hy nog ‘n babahondjie was.

- Daar is intussen WhatsApp boodskappe vir die Observer gestuur waarin ‘n persoon noem dat dit vir haar gelyk het asof dit nie dit persoon se hond is nie en dat hy die hond agter hom aanlok.
- ‘n Ander stemboodskap het mense gewaarsku dat hulle nie net moet aanneem dat ‘n hond gesteel is nie, want baie mense stap met hul diere in die veld.
- Later het nog ‘n vrou aangedui dat die man bevestig het dat hulle die hond al vir vyf jaar het.
- Wendy het bevestig dat daar gepraat word oor haar man en hul hond. “Ek is woedend, ek gaan dit nie hier los nie! Op die stemboodskap wat rondgestuur word, sê die vrou sy dink my man is haweloos, wie dink sy is sy!”
