Ongelukkige teenparty in egskeidingsaak takel prokureur voor hof
Fout! Dié regsverteenwoordiger het dan ’n sesde dan in karate
Die ongelukkige teenparty in ’n egskeidingsaak wat prokureur Josef van Eeden voor die Middelburg Landdroshof getakel het, het die fout van sy lewe gemaak.
Die prokureur wil nie veel oor die voorval uitwei nie en sê net “ja, hy het my begin aanrand en ek moes myself verdedig”.
Van Eeden het nie net ’n sesde dan nie, maar is gekies vir die Afrika span wat vanaf 4 tot 5 Mei 2026 in Yokohama Japan deelneem aan die IJKA Continental Cup.
Hoofseun van die Koedoekoppe
Van Eeden is in Makopane gebore op 31 julie 1972 en het op vierjarige ouderdom na Middelburg verhuis toe sy pa, Seeff, in 1976 aangestel is as hoof by Laerskool Middelburg.
Hy was in 1978 in graad een aan Laerskool Middelburg en draf meestal vir die B-rugbyspanne uit en speel ook tennis vir die skool. In 1985 word hy verkies as hoofseun van die Koedoekoppe.
Middelburg JKA Karate Sentrum
Die jaar daarna word hy ’n blougat by HTS Middelburg en speel rugby vir die A-spanne en het ook in matriek in 1990 onder Chris Grobler die voorreg om die rooi trui vir ’n paar keer oor sy kop te trek.
Sy karateloopbaan begin in 1980 en in 1983 sluit hy by sensei Gene Fourie se Middelburg JKA Karate Sentrum aan.

“Ek het in die begin jare nie sukses behaal met kompetisies nie, maar het vasgebyt. In 1987 het ek vir my junior swart gordel gegradeer en my pad verander wat kompetisies aanbetref. Ek het in 1998 ’n eerste plek by die Noord-Transvaalse JKA kompetisie behaal vir kumite seuns onder 18.”
RAU onder 20 rugby
Tydens sy studente jare by die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) en trotse inwoner van die Drommedaris mans koshuis, speel hy koshuis rugby, hokkie en korfbal. Hy speel ook ’n paar wedstryde vir RAU onder 20 rugby, ek vir die tweede en derde spanne van RAU.
“Ek het die voorreg gehad om onder verskeie legendes vir die duur van my studies in Johannesburg karate te beoefen, soos by wyle sensei Stan Schmidt se “Early Birds”-klas wat baie uitdagend was. Ander karate bekendes wat my help slyp het, was sensei Keith Geyer wat vir jare Suid-Afrikaanse kampioen was, sensei Malcom Dolfman en sensei Chris Hauptfleicsh.”
RAU karateklub
Van Eeden neem die afrigting van die RAU karateklub oor en gradeer in 1991 vir sy sho dan (eerste dan) en in 1993 vir sy ni dan (tweede dan), waarna hy by sensei Keith Geyer as kenjuse (student instrukteur) begin. Hy verwerf ook sy Suid-Transvaal kleure.
In Desember 1994 keer hy terug na Middelburg en begin weer by sensei Gene Fourie, wat hy as sy “karate vader” beskou.
“Ek het by baie lewenslesse by hom geleer, waarvan die belangrikste is om vas te byt en konsekwent te oefen.”
Hierna volg een na die ander karate prestasie. Hy is verskeie kere Noord Gauteng kampioen en behaal ook plekke op die Suid-Afrikaanse kampioenskappe, ’n tweede plek by die Afrika Beker en verteenwoordig Noord Gauteng en Mpumalanga.
Roku dan (sesde dan)
In 2022 skakel hy oor van JKA na IJKA onder leiding van sensei Bernard Buys en waar sensei Fourie ook die nasionale president is.
“Ek het in November 2024 vir my Roku dan (sesde dan) gradeer, onder IJKA se internasionale hoof afrigter shihan Utsumi Takato.”
Gekies vir die Afrika span
Die prokureur waarmee jy liewer nie moet sukkel nie, is nou gekies vir die Afrika span wat vanaf 4 tot 5 Mei in Yokohama Japan deelneem, aan die IJKA Continental Cup en hy is ook as skeidsregter gekies, na hy deelgeneem het aan die Suid-Afrikaanse en Afrika kompetisie in Oktober 2025.
Middelburg het ses studente wat gekies is vir die span.
Hy het ’n klub, Fudoshin Karate Klub, wat geleë is op die hoek van Hoop- en Walter Sisulustrate op die perseel van Crumml Restaurant.
Belangstellendes kan hom kontak by 083 6543 562
