Dit is ’n prestasie wat nooit weer herhaal sal word nie.
’n Prestasie wat geharde driekampers verstom.
Cobus Fourie (69) durf Sondag sy 43ste agtereenvolgende Ysterman aan.
Dit vergelyk met Louis Massyn (74), wat verlede jaar sy vyftigste Comrades marathon voltooi het.
Massyn sal soos Fourie kan vertel die uitdaging is nie om die wedloop te voltooi nie, die uitdaging is om daar te kom.
“Ek kan ook”
Om deur koue, wind en reën, steeds te oefen, wanneer ander agteroor op die rusbank sit en Orkney Snork Nie kyk.
Moes dikwels hoor “ag, as daai groot ou die Comrades kan hardloop, kan ek ook”.
My antwoord was altyd, “sit jou tekkies op die teerpad”.
Beginjare van die Ysterman
In Fourie se geval was dit nie net voete op die teerpad nie. Dit was in die beginjare van die Ysterman roei, fietsry en draf. Deesdae is dit swem, fietsry en draf.
Met ander woorde, Fourie moes nie net ’n marathon gemaklik kafdraf nie, maar tyd spandeer in die swembad en op die fietssaal.
Eerste Ysterman in 1983
Hy het byvoorbeeld twee weke gelede met sy fiets 201 kilometer Wonderfontein toe en terug gery en die Maandag nog 100km. Intussen het hy ook geswem en gedraf.
Vroeër hierdie jaar het hy vier keer die Stoffberg Monster aangedurf wat 150km op ’n dag was.
Dié oud Hoërskool Morgenzon leerling, het sy eerste Ysterman op 26 Februarie 1983 voltooi, op sy verjaardag.
Die roeigedeelte is daardie jare op Hartbeespoortdam gehou en die marathon het by Voortrekkerhoogte (Thaba Tshwane) geëindig. Die koerant Rand Daily Mail was die hoofborg.
Wêreld muliti-dissiplinê kompetisie
In die geselskap van top driekampers soos Henk Watermeyer en dr Eddie King eindig hy een jaar vyfde.
Hy het Suid-Afrika ook al in Australië en Spanje verteenwoordig, in die wêreld muliti-dissiplinê kompetisie wat swem, fietsry en draf insluit.
226km
Sondag se Isuzu Ysterman Suid-Afrikaanse kampioenskappe in Gqeberha bestaan uit 3.8km swem, 180.2km fietsry, en 42.2km draf. Die korter weergawe of 5150 is 1.5km swem, 40km fietsry en 10km draf. Die volle afstand van die vol Ysterman is 226km.
Maar waarom doen Fourie dit?
“Ek wil ’n gesonde leefwyse handhaaf en ’n voorbeeld stel vir ander mense.”
Sy swoeg en sweet is ook nie verniet nie. Hy samel fondse in vir Ironman4Kids.
En hoe gaan hy op 69-jarige ouderdom nog ’n Ysterman klaar maak?
“My skedule is op ’n papiertjie neergskryf, wat ek in my skoen gaan sit. Ek weet presies wat om te doen!”
