Dubbele skietdood: Kinders onthou die mooi oomblikke saam met hul ma
Kinders steeds in skok na dubbele skietdood waar hul ma oorlede is.
Te midde van hul hartseer oor hul ma wat oor die naweek doodgeskiet is, onthou Gerda van der Woude (68) se kinders net al die mooi oomblikke saam met haar.
Sondag het hulle die hartseer nuus gekry dat Gerda en haar eksvriend, Peet Oosthuizen, met wie sy nege jaar in ’n verhouding was, in die waskamer van haar huis in Seringstraat gekry is.
Beide is geskiet met ’n klein kaliber wapen, wat behoort het aan Peet.
Alles dui daarop dat hulle reeds Saterdag gesterf het. Mense in die uitbreiding het hulle hoor stry, waarna dit stil geraak het.
Die kinders sê dat haar WhatsApp om 10:10 die laaste keer Saterdag aktief was en Peet se WhatsApp omstreeks 10:20.
“Ons harte is baie seer. Dit was ’n groot skok, ons het nie gedink hy sal so iets doen nie.”
Oor die tragiese gebeure sê hulle: “Praat met jou familie oor dit, moenie dinge weerhou nie.”
As hulle hul ma moet beskryf, dan sê hulle dat, “sy daarvan gehou het om te gee. Sy was altyd opgewonde om na haar kleindogter se sport te gaan kyk en om met haar ander kleinkinders oor die foon te praat.”
Hulle onthou ook hoe lief sy vir die natuur was en om ons land te verken.
“En lag…sy kon altyd so lekker lag.”
Hulle meld dat sy graag gelees het, soduku gespeel, gehou het daarvan om legkaarte te bou en in haar tuin bedrywig te wees.
Gerda kom oorspronklik van die Stoffberg en Roossenekal area, maar het die afgelope 20 jaar in Middelburg gebly. Sy het vroeër jare by haar oorlede man se besigheid gewerk en na sy dood was sy ’n huisvrou.
Gerda word oorleef deur haar seuns Jelte en Koos, dogters Helena en Thea, skoondogters Marike en Rosa, skoonseuns David en Jaco en kleinkinders Mia, Lea, Renate en Saskia.
’n Roudiens word Vrydag, 24 April, om 10:00 by die NG Kerk, Kanonkop gemeente, gehou.
• Peet se familie wil nie op hierdie stadium enige kommentaar lewer oor die gebeure nie. Middelburgers wat bevriend was met hom (wat anoniem wil bly), het hom beskryf as as ’n persoon wat altyd bereid was om ander te help.
