News

Rugbyspeler wat deur boot getref is geopereer

"Meester van die strand" in Netcare Pretoria Oos Hospitaal behandel

Dit gaan goed met Kappie (60).
Die geliefde oud rugbyspeler en afrigter/spanbestuurder van Middelburg Rugbyklub, is suksesvol geopereer in die Pretoria Oos Hospitaal om die skade te herstel, nadat hy deur die boot Oom C-Breeze, met kaptein Henk du Plessis, getref is.

“Dit is ’n wonderwerk dat ek leef”

Frikkie, of Kappie, soos hy bekend is, is tydens die Mynmanne Hengelkompetisie by Sodwana op 23 Maart 2026 beseer.
Meer as dertig mans moes die boot van sowat een ton oplig, om hom te bevry.
Hy is daarna na die intensiewe sorgeenheid van die Netcare St Augustine Hospitaal in Durban gehaas.
“Dit is ’n wonderwerk dat ek leef,” het hy uit sy hospitaalbed gesê.

39ste jaar as “meester van die strand”

Die oud Middelburg en Suidoos-Transvaal kaptein, Piet Craven, het hom in die hospitaal besoek en ook gesorg dat hy veilig by die lughawe kom, sodat hy kan terugvlieg na Middelburg toe.
Hy en sy vrou, Judy-may, is ook die eienaars van Judsies Geskenkwinkel in die Midwater Sentrum.
Dit was sy 39ste jaar as “meester van die strand” by die jaarlikse groot hengelkompetisie.

Dit was sy werk om toe te sien dat die bote na ’n dag se hengel, veilig op die strand lanseer.
“Ek het gesien die boot kom in my rigting en het probeer om weg te kom, maar het in ’n gat getrap, gestruikel, my balans verloor en toe is die boot bo-oor my.”
Van die ander deelnemers het begin om hom onder die boot, waar hy vasgepen was, te probeer uitkry, deur die seesand weg te grawe en uiteindelik die boot op te lig.

Erelid van die Mynmanne

Hy het drie rugwerwels, ses ribbes en sy sleutelbeen gebreek en ’n stuk van sy scapula (skouerblad), waarvoor hy geopereer is.
Behalwe dat hy die meester van die strand was, is Kappie ook ’n erelid van die Mynmanne.
Mynmanne kompetisie organiseerder, Thinus Barnard, het onderneem om kommentaar te lewer oor die voorval, maar het later gesê hulle wag vir ’n ondersoek om afgehandel te word.

  • Kappie het laat weet dat die operasie suksesvol afgeloop het en hy kan dalk Vrydag ontslaan word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button