Dennesig is die afgelope week omtower in ’n kaleidoskoop van oranje.Donderdag was daar niks.
Swaardlelies het in plate opgeskiet, veral langs Harry Gwala- en Verkennerstraat.
Dit het vir die mooiste mooi veldtuin gesorg.
Die blomme is uitgetrek en op die hoek van Helen Joseph- en Njalastraat verkoop.
Inwoners het ook in die stroping gedeel en die plante uitgetrek en in hulle tuine geplant.
Teen Donderdag was daar enkele plante oor.
Volgens inligting wat Nico Taute van Ninfa Kwekery beskikbaar gestel het, is die swaardlelie, of gladiolus, ’n majestueuse bolplant wat bekend is vir sy lang, regop blomspiese wat bedek is met groot, kleurvolle blomme in ’n wye verskeidenheid skakerings – van sag wit en pastel tot helder rooi, oranje, pers en selfs tweekleurige patrone.
Die plante word as “swaardlelies” beskryf, weens hul lang, smal, swaardvormige blare.
“Gladiolusse blom in die somer tot vroeë herfs en bring ’n dramatiese vertoning van kleur in enige tuin of blomskikking.”
Die swaardlelies word vir tot R399.00 vir 20 plante verkoop in die algemene handel.
Volgens ’n Google-soektog is dit “oor die algemeen onwettig om inheemse lelies en ander wilde plante uit die veld in Suid-Afrika te verwyder, sonder ’n permit. Die verwydering van plante, insluitend bolle, word as stropery beskou en kan lei tot ernstige boetes of tronkstraf, aangesien alle inheemse flora deur bewaringswette beskerm word.”
