NewsSport

Die varkoor se verhaal waarvan min mense weet

’n Lelie wat in smart en dood vertroosting gebring het

Vanwaar die varkoor?
Uit die dood!
In honderde rugbyspelers en beamptes se kaste hang ’n Suidoos-Transvaal baadjie met varkoor op.
Vra jy hulle vanwaar die varkoor, is die antwoord: “Seker maar uit die veld?”
Ander antwoord eerlik hulle het geen idee nie.

Met die Blesbok wat die afgelope paar weke so in die nuus was, het die varkoor weer herleef.
Die Blesbokke was Suidoos-Transvaal Rugby-unie se B-span. Die A-span het met ’n grystrui en varkoor op die bors uitgedraf.

Die Suidoos-Transvaal Blesbokke se embleem was ’n blesbok en nie die varkoor soos hier nie. FOTO: Verskaf.

Min mense weet die varkoor, of aronskelk, wat die Suidoos rugbyspan as embleem gebruik het, kom uit die smart van die Middelburgse konsentrasiekampe.
In die haglike omstandighede en veral tydens die bitter koue winter van Julie 1901, sterf 404 inwoners, dit is 13 begrafnisse per dag.

Middelburg Konsentrasiekamp kamphospitaal Was Natie du Toit dalk ’n verpleegster in hierdie hospitaal? (Foto: TAB – KI Gekleur). verskaf deur Middelburg Erfenisvereniging.

Veldmaarskalk Horatio Herbert Kitchener gee in Desember 1900, tydens die Anglo-Boereoorlog, opdrag dat ’n konsentrasiekamp op Middelburg gevestig word.
In Julie 1901 het hierdie kamp reeds 7 751 inwoners.
Uiteindelik sterf daar tussen 1 3141 en 1 621 persone in drie kampe op die dorp.

Een van die konsenrasiekampe op Middelburg. FOTO: Middelburg Erfenisvereniging.

Volgens Middelburg Erfenisvereniging was die eerste konsentrasiekamp oorkant die spoorwegstasie.
Die kamp het bestaan uit enkele huise suid van die stasie
Die huise was gou te klein en toe ’n opdrag uitgereik
is vir die vestiging van ’n formele kamp; is ’n terrein suid van die spoorlyn gekies, met
die middelpunt ongeveer waar die huidige HTS Middelburg geleë is.

Die tweede konsentrasiekamp was suid van die spoorlyn.
Die terrein was vleierig en die uitleg was baie swak.
Dit was nie net vroue en kinders wat na die kamp afgevoer is nie, maar
ook bejaarde mans, wat nie aan die oorlog kon deelneem nie, bejaarde vroue en verskeie
gestremde persone.

Die bejaarde Philippus Rudolph Botha is in hierdie konsentrasiekamp oorlede, op die terrein waar die gedenksaaltjie by HTS Middelburg is, wat tans gerestoureer word.
Die toestande, uitleg en water in die kamp was so sleg, dat ’n inspeksiekomitee, die “Ladies
Committee”, op 14 Oktober 1901 rapporteer dat die Middelburg kamp “the most
unsatisfactory” in die land is.

Die kamp word gesluit en tussen Oktober en Desember 1901 word al die
inwoners na ’n nuwe terrein oorkant die Klein Olifantsrivier geskuif.
In die derde konsentrasiekamp sterf 192 inwoners.

’n Standbeeld is vir Natie du Toit opgerig by die ingang van die Normaalkollege Pretoria. Hierdie foto het in die boek “Hang die redakteur” verskyn. FOTO: Tobie van den Bergh

Een van die persone wat in die konsentrasiekampe gehelp het, was verpleegster Natie du Toit.
Sy was later een van die eerste studente van die Normaalkollege Pretoria, wat op 2 September 1902 gestig is.
Toe daar gevra is vir voorstelle vir ’n embleem, het sy een ontwerp.

Die embleem van Natie du Toit. FOTO: Normaalkollege Pretoria.

Ondanks al die lyding het die varkore pragtig in die vleie om die konsentrasiekamp geblom, waar Natie gewerk het. Die blomme was vir haar simbolies van skoonheid en hoop.
Sy het haar armsvol gepluk, om die tente van siekes te versier en om kransies te maak vir die afgestorwenes.

Natie het drie varkore geteken, wat dui op die oorlog wat drie jaar geduur het.
Toe daar aansoek gedoen is dat die embleem (wapen) heraldies aanvaar word, is gesê dit is drie varkoorblomme, die buitenstes geblaar, en die stingels in die skildvoet aanstotend, alles van natuurlike kleur.

Die wapenspreuk was “moed, blymoedigheid en kalmte van gees”.
’n Monument is vir Natie opgerig by die ingang van die Normaalkollege Pretoria, deesdae Tukkies se Groenkloof-kampus.
En toe word Suidoos-Transvaal Rugby-unie in 1969 gestig.
Daar was ’n voorstel dat die embleem ’n tarentaal moes wees.
Die voorstel is nie aanvaar nie, omdat Standerton reeds ’n tarentaal gebruik het.

Skoolhoof George Claassen het voorgestel dat die varkoor as embleem gebruik word vir die Suidoos-Transvaal rugbyspan. FOTO: Verskaf.

Die hoof van Hoërskool Middelburg, George Claassen, het drie jaar vir Tukkies o/19 losskakel gespeel, nadat hy op 16-jarige ouderdom sy matriek by Affies geskryf het. Na sy studies by Tuks, is hy na die Normaalkollege Pretoria om sy onderwys diploma te voltooi.
Hy het ’n varkoor geskets en dit aan die destydse markmeester van Witbank en Suidoos-Transvaal Rugby-unie se eerste president, Flip Coetzer, voorgelê.
Claassen se inspirasie het van Natie du Toit se Normaalkollege varkore gekom.
Sy voorstel is op 3 Maart 1969 aanvaar.

Die varkoor het dalk uitgesterf nadat die Pumas tot stand gekom het, maar die gedagtes aan Natie du Toit, George Claassen en elke speler en beampte wat die geel blom op sy bors gedra het sal altyd voortleef. FOTO: Tobie van den Bergh

So is die Suidoos-Transvaal rugbyspan se varkoor gebore.
Wanneer jy weer daardie baadjie uit die kas haal, weet dat dit nie net ’n varkoor is nie.
Dit is ’n varkoor, gebore uit lyding en die dood…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button