Lumieke – klein hartjie veg groot stryd
Ongebore baba, Lumieke, het ’n gaatjie in haar hartjie, asook ’n gewas wat binne-in groei.
Wat veronderstel was om ’n vreugdevolle tyd te wees, het vir ’n Middelburg-gesin in ’n stryd om oorlewing verander.
Johánrie en Alex Hall sien geweldig uit na die koms van hul dogtertjie, Lumieke, wat hul gesin sal voltooi. Maar tydens ’n roetine-sonar op 23 weke het hul wêreld tot stilstand gekom.
Dokters het bevestig dat Lumieke ’n gaatjie in haar hartjie het, asook ’n gewas wat binne-in groei.
“Dit voel asof alles net skielik verander het,” vertel die familie.

Sedertdien het hul pad na ’n spesialis in Sandton gelei, waar Lumieke die nodige sorg kan ontvang. Sy sal in Sunninghill-hospitaal in middel Julie gebore word, waar ’n span spesialiste onmiddellik kan ingryp ná haar geboorte.
Dié lewensnoodsaaklike sorg kom teen ’n prys.
Die hospitaal val buite hul mediese fonds se netwerk, en die gesin staan reeds voor ’n deposito van sowat R190 000 vir die keisersnee en eerste hartoperasie om die klein pienkvoet se hartjie te red. ’n Bedrag wat eenvoudig té groot is om alleen te dra.
Bykomende kostes soos reise en verdere mediese behandeling plaas nog meer druk op hul finansies.
Tog tussen die vrees en onsekerheid, is daar hoop.
Volgens mamma Johanrie laat die dogtertjie elke dag van haar hoor. Sy beweeg en skop aanhoudend, ’n klein vegtertjie wat reeds wys sy gee nie maklik op nie.
Die gesin probeer intussen boeties Zi-Jandré (5) en Divandré (4) teen die volle omvang van die situasie beskerm terwyl hulle self aan hul geloof vasklou.
“Ons glo die Here het haar vir ons gegee en Hy sal ook voorsien,” sê sy.

Die familie reik nou uit na die Middelburg-gemeenskap vir hulp.
Elke bydrae, maak nie saak hoe klein nie, bring Lumieke nader aan ’n kans vir ’n gesonde lewe. ’n Kans om eendag saam met haar boeties in die tuin te speel. ’n Kans om net ’n dogtertjie te wees.
Soms vat dit ’n hele gemeenskap om ’n hartjie aan die klop te hou.
- Die publiek kan hul BackaBuddy-profiel ondersteun deur te kliek op die Baby Lumieke Hall skakel.
https://www.backabuddy.co.za/campaign/baby-lumieke-hall
