KYK: Op die hoogste piek, vind Giel sy siel
Middelburger Giel Visser het in Februarie Berg Kilimanjaro uitgeklim en het sy besondere verhaal gedeel.
Giel Visser het in Februarie vanjaar die ikoniese Berg Kilimanjaro – die hoogste berg in Afrika – suksesvol uitgeklim.
Die 54-jarige inwoner, oorspronklik van Bethal, maar sedert 2017 ’n inwoner van Middelburg, het saam met ’n groep van 14 ander avonturiers die uitdagende tog aangepak.

Dit het die groep sewe dae geneem om uiteindelik die asemrowende sonsopkoms bo-op die 5 895 meter hoë berg in Tanzanië te beleef.
Wat die ervaring so spesiaal gemaak het was om sy verjaarsdag op 21 Februarie by die berg gevier. “Daar was kersies, liedjies en koek saam met die groep,” vertel hy.

Dit was egter nie sy eerste poging om baas van die berg te word nie. Hy het die Lemosho-roete vir die tweede keer aangepak, nadat hy reeds in 2022 die berg aangedurf het. Tydens dié poging moes hy ná ’n ernstige enkelbesering per helikopter van die berg af gevlieg word.
“Ek het teen ’n styl koppie in die modder geval en my enkel ernstig beseer. Die Here het my daardie eerste keer op Kilimanjaro bewaar.”

Hy was tydens die besering sowat 38kg swaarder as met sy met sy tweede poging. Hy verduidelik dat die dun berglug, nou paadjies en bitter koue moontlik tot baie ernstiger beserings – of selfs erger – kon gelei het Hy beskou sy enkelbesering destyds as genade.
Giel het beslis nie toegelaat dat die mislikte poging die beste van hom kry nie, want vir hom bestaan die woord ‘amper’ nie. “Ek kon eenvoudig nie vir my gesin sê, ek het probeer om Kilimanjaro uit te klim nie. Nee wat! Ek het eenvoudig besluit ek wou, ek sal, ek moet die sonopkoms op die piek van Kilimanjaro sien.”

Ter voorbereiding vir die uitdaging het hy intensiewe stapoefeninge gedoen en gereeld gewigsoefeninge beoefen – iets wat volgens hom saak maak op dié uitmergelende roete. “Ek moes my lewenstyl verander om hom te kan klim, dié berg het my lewe gered.”
“Pyn is net tydelik, maar trots hou vir ewig,” is wat hy ten volle uitgeleef het.

Om die sonsopkoms vanaf die piek te beleef, moes die groep reeds om 23:00 begin stap. Stap vir stap het hulle deur die nag gevorder totdat hulle uiteindelik die piek kon sien.
“Die belangrikste les wat ek op die reis na die punt van die berg geleer het, is dat jou liggaam sterker is as wat jy dink.”
Die weerstoestande het ook nie gehelp nie – dit was nat, bitter koud en baie winderig tydens die laaste deel van die klim. Met elke tree was daar ’n innerlike stryd tussen opgee en aanhou tydens die moeilik summit.
“My ‘go’ was uit!”
Gelukkig is moeilike tye kortgeknip met giggel en grappies tussen Giel en die ander stappers. Wanneer klimmers uiteindelik die piek bereik, is daar nie veel tyd om “te hmm en haa nie, jy is net ’n paar minute daar bo.”

Teen 11:00 die volgende oggend was hy reeds terug by die basiskamp.
In totaal het die groep ongeveer 15 ure spandeer om die laaste deel op en weer af van die berg te stap. “Dit was asemrowend,” sê hy.
Sy familie het ook saam gevolg deur middel van ’n opsporingstoestel wat deur een van die ekspedisieleiers gedra is.
Nou, terug in Middelburg, vertel hy dat die avontuur ’n diep indruk op hom gelaat het en dat hy hegte vriendskapsbande gevorm het.
“Die gogga het my gebyt.”

Dié avontuurlustige man beplan reeds sy volgende uitdaging en hoop om in die toekoms, Berg Elbrus in Rusland aan te pak.
“As ek my ervaring van klippe kou op Kilimanjaro moet opsom, dan is dit life changing’!” sê hy.
