Inwoners van Dennesig en Kanonkop wat gisteraand teen tien uur in die bed was, het wakker geskrik met ’n klein oorloggie wat woed.
Hulle wat besig was met ’n laaste koffie, moes droeë klere gaan aantrek.
Alle hel het losgebars.
Dit het geklink soos semi-outomatiese geweerweervuur met skote wat aanhoudend geklap het.

Arthur Hill, van Dagpatrollie, het dadelik gaan ondersoek instel en die rede vir die “skote” gekry.
Net na die taxistaanplek in Sipresstraat was ’n houer waarop daar staan “happy Indian festival”.
Binne die houer was iets soos ’n weermag arsenaal met 100 klappers wat na mekaar afgevuur kan word.
Die sondebok was vermoedelik Kaizer Chiefs of Orlando Pirates ondersteuners wat Sondag se derby gevier het.
Een so houer kos sowat R4000 en sorg vir ’n geskiet wat mense sal laat dink hulle is in Iran.
Die skuldiges het op die vlug geslaan, voordat Dagpatrollie se lede daar opgedaag het.
