Hollywood atleet steek koel R65 000 in die sak
Anders as twee ander wedlope sal prysgeld wel betaal word.
Die koningin van die Loskop 50km marathon, Irvette van Zyl, is ’n hele R65 000 ryker, na Saterdag se wedloop. Sy het Pauline Phalo se rekord, 3:14;37, wat al in 2009 opgestel is, verbeter en daarmee ’n bonus van R50 000 verdien. Saam met die eersteplek prysgeld van R15 000, is haar bankrekening met R65 000 aangevul.
Van Zyl, wat in die kleure van Hollywood Atletiekklub deelneem, se tyd was 3:13:45. Die perfekte hardloop weer het natuurlik gehelp dat die rekord spat. Nadat sy gesukkel het in die Twee Oseane wedloop, het Van Zyl by die Loskop eindpunt gesê sy sien nou weer kans vir die Comrades.

Daar is ’n groot skadu oor padwedlope gegooi die laaste twee jaar. Elite atlete van regoor die wêreld is na Nelspruit gelok, vir die Mpumalanga marathon. Die mans en vroue wenner sou elkeen R1 miljoen ontvang.
Organiseerder Caleb Lekhuleni het nie sy beloftes gestand gedoen nie en skuld nie net die wenners hulle prysgeld nie, maar ook diensverskaffers. Die totale bedrag word op R5 milj. geraam. Dieselfde het met die Soweto marathon gebeur, met onder andere Comrades vroue wenner, Gerda Steyn, wat ses maande later nog nie haar prysgeld gekry het nie.
By die Loskop marathon kry vroue en mans dieselfde prysgeld. Daar is selfs vir die oor sewentigjariges ’n geldjie. En nie net die 50km wenners kry prysgeld nie, maar ook die halfmarathon en 10km.
Wedloop organiseeder, Hein Koch, sê hulle betaal nie reuse prysgeld, soos by ander wedlope nie, maar probeer elke deelnemer gelukkig hou. “Daarom kry elkeen wat klaarmaak ’n sakkie lemoene en afkoel handdoek by die eindpunt. Ons maak seker almal is gelukkig.” Daar was ook versekering uitgeneem indien die rekords sou spat.
