Die Middelburg Byeboer Groep, wat ’n tyd lank onaktief was, het hul spreekwoordelike byevlerkies sedert Januarie 2026 weer begin fladder.
Die groep, onder leiding van George Papapavlou, se oogmerk is om as ’n groep byeboere uit die omgewing kwartaalliks byeen te bring, kennis en inligting met mekaar te deel en om die bewusmaking van die heuningby in die breër gemeenskap te bevorder. Altesaam 18 byeboere is tans deel van die groep.
As deel van die bewusmakingsveldtog, het die groep hul eerste Heuning Ekspo in samewerking met Ninfa Tuinsentrum aangebied. Dié ekspo, wat aanvanklik sou plaasvind vanaf 24 tot 26 April 2026, was op aanvraag van die publiek, verleng tot Maandag, 27 April.
Ses byeboere het aan die ekspo deelgeneem. Tydens die geleentheid was daar verskeie variëteite rou heuning te koop. ’n Proestasie, waar lede van die publiek die verskillende varëteite kon proe, was baie gewild.

Verskeie by-verwante produkte soos onder andere byewas, gegeurde seep, boerseep, kerse en heuningkoeke was ook beskikbaar. Verder was daar byekorwe en ander toerusting vir gebruik deur die byeboer, beskikbaar. ’n Groot trekpleister was die lewendige observasiekorf, wat veral groot byval gevind het onder die kinders, sê Faan Steenkamp, een van die byeboere betrokke.
George Papapavlou se gereelde opvoedkundige aanbiedings propvol kennis, was ook baie goed ontvang deur veral die kinders. Ninfa Tuinsentrum het verskillende by-vriendelike plante vir die ekspo beskikbaar gestel.
Hierdie eerste ekspo is baie goed deur die publiek ondersteun, wat selfs besoekers vanaf eMalahleni, Belfast en Groblersdal ingesluit het, sê George. Verder het vier voornemende of opkomende byeboere by die Middelburg Byeboer Groep aangesluit. Weens die groot belangstelling, word nog ’n ekspo beplan vir later vanjaar.
