Is daar ’n begraafplaas in die land wat nie toegegroei is nie?
"Van om naar te word om die verval te aanskou"
Is daar ’n begraafplaas in Suid-Afrika wat nie toegegroei is nie?
Nadat Sanell Vosloo op die Middelburg Omgee-groep gekla het oor die Samora Machelstraat begraafplaas wat weer toegegroei is, het boodskappe van reg oor die land ingestroom.
Sy skryf: “Skokkend hoe verwaarloos dit daar is, gras weke laas gesny, oral bossies en onkruid. Ek kon nie eers my seun se van sien op die kopsteen, onder al die lang gras nie. Daar is by ’n paar kopstukke marmer blokke afgesteel. Wie kan ek kontak of moet mens nou maar self gaan gras sny? Dit was altyd ’n netjiese begraafplaas gewees met kort gesnyde groen gras. Hierdie is regtig hartseer.”
Van Delmas tot Centurion, Ermelo, Vanderbijlpark, Belfast, Dullstroom, Pretoria, tot eMalaleni is gekla oor die verval van dorpe se begraafplase.
Annemarie Manning Ferreira sê “gaan kyk in Belfast julle sal naar word.”
Ek het ’n paar maande gelede ’n begrafnisdiens in die Zandfontein Begraafplaas in Pretoria bygewoon. Was geskok om te sien hoe die grafte tussen gras en onkruid verdwyn.
Maar dit is volgens al die kommentare die storie van Suid-Afrika.
Middelburg se begraafplaas was vir jare ’n lushof om te besoek.
Die begraafplaas was so mooi dat mense reg oor Mpumalanga hulle geliefdes hier kom begrawe het.
Dit het die laaste ses maande verander.

Na vele klagtes is die gras gesny.
Maar ’n paar maande later en dit is ’n skande om te sien hoe toegegroei die plek is waar geliefdes gaan treur.
Debbie Venter sê haar seun is ook daar begrawe. Sy het gevra wanneer gaan die gras gesny word, “tot nou is ek nie geantwoord nie.”
Volgens Louise Engelbrecht bly daar hawelose dwelmverslaafdes in die badkamers naby die kindergrafte en is ’n kruis van haar pa se graf gesteel. “Nou lê my pa naamloos daar.”
Daar is al meer ’n gevoel dat die gemeenskap self moet inspring en die begraafplaas skoonmaak. Miskien is daar tuindienste wat kan help?
Daleen Backhouse sê die beste is om die gemeenskap betrokke te kry en self in te spring. As jy vir mense wat verantwoordelik is wag, gaan jy lank wag. Vra die koerant om n berig te plaas vir ’n skoonmaak dag en nooi almal wat kan help uit om in te val vir die gemeenskapsprojek.”
Daar was drie inwoners wat aangebied het om die grafte teen betaling in stand te hou.
Raadslid San-Mari Wait, in wie se wyk die begraafplaas val, sê die parke afdeling se begroting is kwaai besnoei.
Die hoof van parke, Dalene Lamprecht, is ook met verlof maar rdl. Wait sê sy sal die agteruitgang volgende week met me. Lamprecht bespreek.
