News

Hondehanteerder se bevelvoerder, broer en geliefde Zeus sterf kort na mekaar

Skandeerder by berugte King Nyabele Hospitaal werk glo nie.

Ulrich Labuschagne het in ’n huldeblyk aan die ontslape oudbevelvoerder van die Middelburg Honde-eenheid, luitenant kolonel Jakes Jacobsz, gesê

“doggies never die, we just regroup in Heaven and start all over”.

Dit versinnebeeld wat ’n “hondeman” is.

Honde is nie honde nie, hulle is familie.

Nou het bekende honde hanteerder, adjudant offisier, Andre Smit, binne ’n week nie net sy oud bevelvoerder aan die dood afgestaan nie, maar ook sy broer en sy geliefde hond, Zeus.

Luitenant kolonel Jacobsz is Woensdagoggend in die vroeë ure oorlede, na ’n hartaanval in Pretoria.

Op 30 April is Andre se broer, Rudi (44) , in die nuwe King Nyabela Provinsiale Hospitaal oorlede.

Hy is opgeneem vir longontsteking maar is Dinsdag, 21 April, ontslaan, net om Woensdag 22 April weer terug gehaas te word.

“My vermoede is dat hy ’n beroerte gehad het,” sê Andre.

'n Honde demonstrasie by 'n skool.
Zeus en adjudant Smit se spesiale oomblik van “Broederskap” by ’n kleuterskool. FOTO: Verskaf.

Volgens hom het die CT-skandeerder by die hospitaal nie gewerk nie en Rudi moes na die naaste hospitaal (Nelspruit) gestuur word, waar daar so skandeerder was.

“Sover my  kennis strek het dit nie gebeur nie en hy is daarna oorlede.”

Die King Nyabela Hospitaal is berug vir swak diens en onmenslike behandeling wat pasiënte ontvang.

Navrae is na die Departement Gesondheid gestuur, wat nog nie reageer het nie.

Rudi het by Elite Training gewerk en laat sy kinders Ruaan (17) en René (14) agter.

Adjudant offisier Andre Smit en sy hond Zeus by die Mbombela stadion.
Adjudant offisier Andre Smit en sy hond Zeus by die Mbombela stadion. FOTO: Verskaf.

Op 22 April moes adjudant Smit ook sy geliefde hond, Zeus groet, wat onverwags siek geword het en te oud was vir ’n operasie.

Intussen het Rudi se gewese vrou, Ronelle, ’n beroep gedoen op hulp, sodat daar op menswaardige wyse van hom afskeid geneem kan word.  

Hy het nie ’n begrafnispolis gehad nie en daar word gepoog om R50 000 in te samel, waarvan nog net R7000 bymekaar gemaak is.

’n Skarefinansieringsprojek (BackaBuddy) is begin waar geld inbetaal kan word.

Die gedenkdiens van luitenant kolonel  Jakes (Mynhardt) Jacobsz (65) word op 9 Mei, om 13:00, gehou by die Fourways Memorial Park in Johannesburg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button