Die vreugdevure brand hoog, nadat Hoërskool Middelburg sy eerste Noordvaal Virsekerbeker wedstryd in die hoogste liga, die bekerafdeling, met 25-26 teen Menlopark gewen het.
Dit ondanks ’n rooi kaart wat agsteman Menzi Siyaya in die eerste helfte gekry het.
Vaskop Dewald du Toit het ’n reuse aandeel in die oorwinning gehad, met die wyse waarop hy strafskoppe by losskrums afgedwing het.
Sy stormram lopies het die Pretorianers ook goed besig gehou.
Die lynstane was ’n nagmerrie maar toe dit in die tweede helfte beter gaan, het die gevaarlike agterspelers al meer die platform gebruik om Menlo in die lug te laat gryp.
Middies het eerste bloed geruik met ’n langafstand drie.
Die voorsprong het nie lank gehou voordat Menlopark na ’n dryfmaal gaan druk het nie.
Die groen span het nooit gaan lê nie en aanhou speel asof Siyaya steeds op die veld was.
Lihan de Vaal het onder die pale gedruk en Jano Wilson slaag met die doelskop om dit 12-5 te maak.
Die Pretorianers het voor rustyd gedruk, 12-10.
Kort na die omdraaislag het Menlo met ’n strafdoel geslaag om die eerste keer die voortou te neem met 13-12.
Du Toit het sy voorry lyf deur die Menlo verdedigers gewoel na ’n tikkskop en Wilson slaag met doie doelskop om die telling na 19-13 te rek.
Senter Blake Faber het ’n briljante drie gedruk nadat hy die bal onderskep het op die Menlopark doellyn. Wilson slaag met die doelskop en skielik was die telling 26-13 en die Middie ondersteuners het al hulle lippe afgelek vir ’n oorwinning.
Die nuwe eerstespan afrigter, Christaan Gouws, kan verskoon word as hy vanaand iets sterker drink as die Klein Olifants se water.
Die spannendste agt minute het gevolg wat nog op die Hoërskool Middelburg veld gesien is.
Die Menlopark agsteman druk twee keer en een doelskop seil deur die pale om dit 26-25 te maak.
Menlo was twee keer sentimeters van ’n drie af, maar Du Toit het ander planne gehad en die bal gesteel wat tot ’n strafskop gelei het.
Honderde Middie ondersteuners het op die veld gestorm nadat die eindfluitjie geblaas het.
En nou is dit die Rooi Bulle wat op die nuwe helde wag.