Onvergeetlike Moedersdag dié jaar by Middelburg SAVF te huis
Mevrou Middelburg, Nicolien Vorster en Nolene Pretorius van His Favourite One, gaan SAVF inwoners op Moedersdag bederf
Mevrou Middelburg, Nicolien Vorster, in samewerking met Nolene Pretorius van His Favourite One, gaan hierdie Moedersdag die dorp se oumas herinner hoe waardevol hul werklik is.
Die dag is nie net vir mammas nie maar vir oumas wat ook liefde, omgee en geskenkies verdien.
Bederf boksies gaan propvol luukse sepies, room, soute en veel meer wees.

’n Totaal van 90 inwoners by die SAVF Middelburg te huis gaan op 8 Mei bederf en pamperlang word.
Mevrou Middelburg bewys vir seker, dat mooi van binne en buite kan straal. Haar glansende glimlag en onbaatsugtige hart van omgee, kan van ver gesien word.

Die organiseerders nooi dus die gemeenskap uit om by die spesiale projek betrokke te raak. Wees ’n lig in ’n ouma se lewe, al is dit net vir ’n dag, deur ’n pamperlang-boksie te borg.
“Verbeeld jou net die groot glimlag op al die oumas se gesigte, verbeel jou die pure plesier, verbeel jou, hoe dit voel om onthou te word.” sê Nicolien.
Hierdie Moedersdag kan ons meer as net die mammas vier. Om deel te word van die boksie-bou projek, kontak vir Nolene by 071 564 0597 of Nicolien by 079 106 4722.
Dis meer as net ’n boksie, dis ’n boksie propvol liefde!
