’n Woeste geveg tussen oudleerlinge van HTS Middelburg en Hoërskool Middelburg, het een jaar van agter die rugbypale tot op die kwartlyn gevorder, voordat dit gestop kon word.
Groot Kallie Grobler, wat vleuel vir Suidoos-Transvaal gespeel het, was een van die toeskouers wat ingespring het om die vegtendes te keer.
Die moeilikheid het begin toe oudleerlinge met baniere voor mekaar verby gehardloop het.
Martin Fouché en Theo Bester, oudleerlinge van HTS, het ook met ’n banier gespog.
’n Oudleerling van Hoërskool Middelburg het ’n stuk van die banier afgeskeur toe hy dit probeer gryp.
Die vet was in die vuur.
Die vuiste het geklap.
Die geveg is aangevuur deur oudleerlinge wat erg dronk by die veld opgedaag het.
Dit was so erg dat oudleerling Kobus Meintjes ’n brief aan die koerant geskryf het, waarin hy optrede teen die wangedrag vra. Hy het voorgestel dat baniere by die derby verbied word.
Een jaar het toeskouers mekaar voor die hoofpawiljoen met bottels toegetakel.
Koerantvoorblaaie in die laat sewentigerjare het foto’s gewys van toeskouers wat mekaar bebloed geslaan het.
Met my tweede of derde derby het ’n toeskouer, nadat die eindfluitjie geblaas het, my vol in die gesig gespoeg.
Die spoeger is hierna agterna gesit en bebloed geslaan, deur sy pa.
En wie sal die drama vergeet toe Bulletjie een jaar platgetrek is?
In die jaar 2026 het Middelburg nie meer sulke platvoerse gedrag nodig nie.
Die TikTiok-video wat die afgelope week rondgestuur is waarin beïnvloeder Nastassja Kriel neerhalend na HTS Middelburg se eerste rugbyspan verwys kan dalk vir sommige snaaks wees.
Dit is presies wat Middelburg nie nodig het nie; kleinlike, neerhalende opmerkings teenoor ’n ander skool.
Om die minste te sê, dit is kommin.
Jy kan nie Dinsdagaand loof en prys en dan meedoen aan sulke laakbare optrede nie.
Mag die 2026 derby more een wees waar daar teruggekyk kan word met trots, nie skaamte nie.
