News

Francois bewys dokters verkeerd

Trap meer as 100 000km die laaste paar jaar met sy fiets, meer as wat hy kar gery het

Spaar petrol, ry fiets!
’n Man wat daad by die woord gevoeg het, Francois Hefer (60), het onlangs 100 000 kilometer met sy fiets afgetrap.
Ja, honderd duisend kilometer, dertig duisend kilometer meer as wat hy in dieselfde tyd met sy kar gery het.

Sy fietsryloopbaan begin al op vierjarige ouderdom.
“Toe ek drie jaar oud was het ek breinvliesontsteking gekry. Dokters het vir my ouers gesê ek gaan sukkel om sport te beoefen, omdat my balans en gehoor aangetas was.”
’n Driewiel is ingespan om sy balans te verbeter en op laerskool het hy en sy vriende maklik 30km afgelê.
“Natuurlik het dit later eers begin help met rugby. Dit het my bene sterk gemaak en ek het spoed gekry. Ek het nooit ernstig gery nie, altyd net werk toe en terug,”

Francois Hefer laat nie toe dat die Kaapse berge hom bang maak nie. FOTO: Verskaf.

Maar toe byt die fietsrygogga en vanaf 2018/2019 het Francois die kilometers ingeryg.
“Vanaf 2008, nadat ek opgehou rook het, het ek maklik oor die 150 000km gedoen. In 2017 het ek vir agt maande nie ’n kar gehad nie, en het 66km per dag vanaf Presidentsrus (Olifants River Lodge) werk en huis toe gery. Dit het nie saak gemaak hoe die weer was nie, ry het ek gery.”Nadat hy op Strava geregistreer het, kon hy presies sien hoe ver ry hy en hy het onlangs amptelik by die 100 000km uitgekom.
Soms het hy saam met die Middelburg Fietsryklub oefengroep 200km op ’n Saterdagoggend afgelê.

Die man wat ’n fiets kan trap, Francois Hefer. FOTO: Verskaf.

En die langste wedren wat hy voltooi het?

“Die 175km Kremetart, in Louis Trichardt (Makhado) wat ek drie keer gedoen het. Die Race to the Sun oor 160km het ek al twee keer voltooi. In 2019 toer ons saam met Middelburg Fietsryklub vanaf Kimberley na Hermanus en ek het so bietjie meer as 1100km gery in agt dae, Argus (Kaapse Fietstoer) ingesluit. Dit was vrek lekker gewees. Het die Tour du Cup ook gedoen, vyf dae met totale kilometers 650 Argus ingesluit.

Anders as die meeste fietsryers is hy nie kieskeurig met watter fiets hy ry nie.
“Ek het ’n paar, almal ou fietse, die nuutste is ’n Specialise diverge gravel en padfiets, Merida 90 MTB, ou Trek geel padfiets, ou Raleigh, Cannondale Tandem 26’ MTB, en dan ’n oefenfiets wat ek aanmekaar gesit het met ou parte, dis sommer nou my 26’ gravel een spoed of driespoed oefenfiets.”

Hier staan die manne! Francois Hefer, Len Sutton, Pine Pienaar, Andrew Thomson, Cobus Fourie. FOTO: Verskaf.

Hy sê sy gunsteling wedren is die Kaapse Fietstoer (Argus) met sy asemrowende natuurskoon, wat hy al vier keer voltooi het, een saam met sy vrou Charmaine op ’n tandem “dit was hard maar lekker”.
Hy het ook al nege RideJoburg wedrenne voltooi “en twee wat my broer vir my ’n nommer gekry het om deel te neem”.
Hy beskou die Sabie en Barberton bergfietswedrenne as sy moeilikste “as jy nie fiks is nie, gaan jy swaar kry”.

Ry fiets, skenk bloed! Francois Hefer wys duime in die lug hy doen sy deel. FOTO: Verskaf.

Daar was in ongeveer 1970 ’n groep fietsryers wat vanaf Messina (Musina) na Kaapstad gery en daarna ’n boek oor hulle wedervaringe gepubliseer het. Hulle het skole (Onder andere Laerskool Panorama) besoek, om leerlinge te inspireer om ook iets groots aan te pak.
Francois sê sy groot droom is ook om vanaf Musina of Nelspruit, Kaapstad toe te ry, “saam met ’n toergroep”.
Maar nou wag die Race to the Sun eers vanaf Hartbeespoort na Sun City op 30 Mei oor 160km se grondpaaie.


Maar waarom ry hy fiets, wat maak dit lekker?

“Die mense, jou eie gedagtes, omgewing, voëls se geluide, jy kan nie altyd almal s’n hoor nie, diere wat jy sien, jy is nader aan jou Skepper vir wie jy dankbaar moet wees, jou gesondheid.”
En sy leuse?
“I don’t race to win, I race to enjoy and to have fun.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button