Jammer mense, my hoenders se stembande het gebreek
Leon Schuster kan movie kom maak oor diere en hulle maniere
You Must Be Joking?
Nee, dis nie ’n grap nie!
As filmmaker Leon Schuster ’n movie kon maak, met diere in die hoofrol, was Dennesig die ideale filmstel.
Hoe dan anders?
Inwoners in Bullerlaan het vroeg Sondagoggend wakker geword met ’n boodskap van ’n besorgde inwoner: “More bure, my kinders se hoenders se stembande het gebreek, as dit te erg raak op die ore, stuur ’n privaat boodskap dan kan ek kyk watse plan kan ek maak”.
Nou wonder mens hoe kraai ’n hoender met die stembande van ’n graad agt seun? “Kikerigggg…” of “koekeleggg…”
En watter plan kan gemaak word met ’n hoender wat se stembande breek?
Dit blyk darem daar bly vredeliewende mense in Bullerlaan want daar is reageer met biddende handjies.
Ja, biddende handjies.
Die tiener hoenders het darem ’n maatjie.
Daar is ook ’n hadida in Dennesig wat klink of sy stembande besig is om te breek: “haa-haa-de-dggg…”.
Maar Schuster kan ook ’n movie maak: “Oh Schucks, hier kom die hase”.
Ondanks pogings om die straat se haasplaag op te los, deur die haaskolonie te vang en elders te vestig, wemel die straat steeds van die “oulike” diertjies.
Maar wat van ’n fliek met die titel “There’s a bobbejaan op my stoep”?
’n Bobbejaan het een jaar deur Dennesig gedraf en amok gemaak waar hy kom.
Toe inwoners van Bullerlaan by die huis opdaag, het ’n huishulp vertel hoe het die bobbejaan hulle hond geklap dat hy bollemakiesie maak.
Panic Mechanic sou ’n goeie titel wees vir die groot bosvarkjag.
Ervare jagters sal vir jou vertel dit is nie ’n vark om sonder handskoene aan te pak nie.
Inwoners het in hulle huise geskuil, terwyl die vark verwoesting gesaai het. Hy het deur ’n glasdeur gebars, voordat ’n jagter sy strooptog kon beëindig.
Maar dalk sal die beste fliek wees oor die mense self.
Veral as jy die kommentaar lees nadat ’n kat met ’n windbuks geskiet is in Jopie Fouriestraat.
Daar is selfs voorgestel dat die skuldige geskiet word daar waar ’n man nie geskiet wil word nie.
En mens kan maar net dink watter gil daai ou gaan los…
