Jong Aldrich Potgieter slaan vanoggend om 12:50 in die PGA kampioenskappe af na ’n paar weke waarin hy gewys het wat in hom steek.
Potgieter het op sosiale media gesê “verlede week was ’n herinnering om nooit op te hou veg nie. Op ’n stadium was ek 10 oor na 28 putjies en het dit daarna omgedraai en het die volgende twee en ’n half rondtes 10 onder gespeel”.
Potgieter is in die tweede groep van drie spelers wat die toernooi afskop. Die spelers gaan behoorlik getoets word by die Aronimink-klub in Philadelphia met 174 sandkuile en golwende setperke.
Vir sportliefhebbers wat die voorreg het om by die huis te wees, gaan Potgieter se teenwoordigheid in die PGA ’n goeie rede wees om vroeg springmielies te skiet en voor die televisie in te skuif.
