21!
21 sonder naam…
…21 sonder identiteit.
Sonder ’n laaste hallelujah.
Na hulle graf…
“Armlastiges!”
’n Woord wat na Bo uitroep.
Is dit wat van ons wêreld geword het?
21 mense is hierdie week as armlastiges begrawe.
Na maande in die staatslykshuis het niemand hulle gaan uitken nie.
Niemand wat navraag gedoen het oor ’n familielid wat verdwyn het nie.
Nie ’n ma, pa, boetie of sussie, neef of niggie nie?
Het hulle geen vriende gehad nie?
Dit is die meeste mense ooit wat as armlastiges op die dorp begrawe is.
Sowetan het al in 2017 berig dat daar 500 begrafnisse was by die Olifantsvlei begraafplaas naby Johannesburg vir armlastiges. Tot vier persone is in een graf begrawe.
In 2003 het Freddie Mileham in ’n bitter koue nag op Middelburg gesterf.
Hy sou ook as armlastige begrawe word.
Die Middelburg Observer redaksie het ’n soektog na sy familie van stapel gestuur en sy broer Jaco opgespoor, wat speurtak bevelvoerder op Viljoenskroon was.
Die redaksie het ’n begrafnis vir Freddie gereël en later ook ’n grafsteen waarop daar staan “God is liefde”.
Toe Freddie die oggend dood gekry is naby Hoërskool Kanonkop, het hy ’n blikkie boontjies wat half geëet was, ’n kombers, ’n paar muntstukke en Bybel by hom gehad. Voor in die Bybel het gestaan “God is liefte”.

Die koerant het ook gehelp om twee ander persone uit te ken, sodat hulle ’n menswaardige begrafnis kon hê.
Jannie Benadie se oorskot is na meer as twee weke in die lykshuis positief deur sy pa Johan, uitgeken.
Jannie se liggaam is in ’n oop veld in Jeppestraat gevind.
Op sy regterskouer was ’n tatoeërmerk van ’n kruis en daar is ’n ‘M’ aan die binnekant van die arm gewees.
Die Middelburg Observer het gereël dat die tatoërmerke afgeneem en in die koerant gepubliseer word.
Dit was te danke aan die tatoeërmerke wat Jannie positief uitgeken kon word.
Weke hierna is ’n middeljarige man se liggaam aan ’n bloekomboom langs die N4, reg langs die tolhek, gekry.
Hy was netjies geklee en het ook ’n sportsak by hom gehad, waarin ’n Bybel met ’n selfoonnommer was.
Die nommer is geskakel en die man wat geantwoord het, het bevestig dat die liggaam die van ’n man was wat die Samaritaan drie jaar gelede ’n rygeleentheid van Barberton na Nelspruit aangebied het.

Al wat hy kon onthou is dat die man se naam Ashley was en dat hy ’n dubbeldoor van gehad het.
Die koerant het kunstenaars genader en Fransie Venter het ingestem om ’n identikit van ’n foto wat op die toneel gekry is, te teken.
Die identikit is deur beide die Middelburg Observer, en Die Laevelder gepubliseer, omdat die oorledene tydens sy rygeleentheid vertel het dat hy familie in Nelspruit sou besoek.
Kort nadat die Laevelder op straat was, het familielede die Middelburg Observer geskakel en hulle is in kontak met die staatslykshuis gebring.
André van Wyk, van Roseleigh Begrafnisdienste, het ingestem om die familie behulpsaam te wees met die vervoer en verdere reëling met die verassingsdiens vir Ashley William Harris-Webster, soos hy uitgeken is deur sy bedroefde familie.
Hy was ’n swerwer wat los werkies gedoen het vir oorlewing.
Mnr. Harris-Webster is veras en die oorskot aan sy bejaarde ma besorg.
