News

Die koedoe was byna biltong

DBV gryp in en keer dat koedoe doodgeskiet word.

Nadat ’n jong koedoebul met Koekie van Wyk se huis klaar was, het dit soos ’n misdaadtoneel gelyk.

’n Koedoe?

Moenie lieg nie!

So sou mense reageer het as hulle die gebreekte venster, die deurmekaar eetkamer en die bebloede sitkamer gesien het.

En dit is so ironies.

KYK HIER: https://www.tiktok.com/@middelburgobserver/video/7645697033923267860

Koekie was erg vies vir die koedoe wat haar bokhorings in die eetkamer gebreek het.

Maar dit was so hittete of die koedoe was biltong.

Daar is aanvanklik beplan om die koedoe se verwoesting met ’n doodskoot in Broodboomstraat, Kanonkop, te stop.

Die Dierebeskermingsvereniging se senior inspekteur Petro Oberholzer  wou nie toestemming gee dat die koedoe geskiet word nie.

’n Ketting van gebeure het hierna gevolg met wildsvangers, veearts dr Munnik Hertzog, natuurbewaring en Piet Wassenaar wat gereeld hand bysit met sulke gevalle, wat tot die koedoes se redding gekom het.

Siedaar!

EN KYK HIER: https://www.tiktok.com/@middelburgobserver/video/7645698236027587861

DBV leerling inspekteur,  Prince Mokwana, was deurtentyd op die toneel en het die Tambotiestraat koedoe wat na Lovers Corner gehardloop het, beetgekry en gehelp dat hy uiteindelik gered word.

Die twee koedoes het gelukkig nie die selfde pad geloop as die bosvark, vlakvark en bobbejaan wat op die dorp kom kuier het nie.

Die vlakvark is in ds Gawie Conradie se tuin deur ’n polisieman doodgeskiet, terwyl hulp op pad was

Die bobbejaan is in Springbokstraat by ’n gastehuis deur ’n jong jagter in ’n boom gekwes en daarna toe hy op die grond ly, doodgeskiet.

Die bosvark het in Dennesig amok gemaak en is deur ’n jagter doodgeskiet.

Mokwana se oë het pieringgroot gerek toe daar grappenderwys vir hom gevra is of die DBV ’n groot genoeg hok het waar die koedoes aangehou kan word.

Wassenaar was destyds die man agter die verskuiwing van die twee seekoeie wat vir weke op Middelburg rondgedwaal het.

Hy het gesê in al die jare het hy nooit gesien dat ’n koedoe so by ’n huis inspring nie.

Niemand weet waar kom die koedoes vandaan nie.

Daar word bespiegel dat hulle van Loskopdam af die pad byster geraak het.

By De Voetpadkloof is ’n jong trop  koedoes en die oord is net 40 kilometer van Middelburg af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Check Also
Close
Back to top button