KYK: Verdoofde koedoe hol na Lovers Corner
Koedoe wat deur eetkamervenster spring gaan by natuurreservaat hervestig word.
’n Jong koedoe ooi wat vanoggend in Tambotiestraat verdoof is, het sowat vier kilometer ver tot by die bekende Lovers Corner naby Koppiestraat gehardloop.
Die koedoe het in die Klein Olifantsrivier onder ’n stomp beland, waar veearts Munnik Hertzog en ’n span helpers haar met groot moeite bevry het.
Sy is die rivierwalle uitgedra en in ’n voertuig gelaai, om na die Loskop Natuurreservaat afgevoer te word.
Piet Wassenaar, wat destyds by die hervestiging van Middelburg se twee rondlopende seekoeie betrokke was, sê dit is die eerste keer dat hy ’n koedoe in ’n huis en woongebied moet help vang.
Kliek hier: https://www.tiktok.com/@middelburgobserver/video/7645644787969821973
Vroeër die oggend het ’n jong koedoe bul in Broodboomstraat by Koekie van Wyk se huis oor ’n pallisadeheining gespring, later deur ’n groot eetkamervenster gebars, in die sitkamer amok gemaak en is later in die gang verdoof deur dr Hertzog.

Nadat hy verdoof is het die koedoe weer deur dieselfde eetkamervenster gespring.
Hy is tot bedaring gebring en in ’n wildsvoertuig gelaai.
Die groep is hierna na Tambotiestraat om die jonger koedoe te verdoof. Nadat die verdoofpyl haar getref het, het sy oor mure gespring en in die rigting van Lovers Corner gehardloop.
’n Lid van die Dierebeskermingsvereniging het haar daar geroep en vasgehou totdat hulp opgedaag het.
’n Paar jaar gelede het ’n koedoe oggendverkeer op Middelburg ontwrig en later by die ouditorium van HTS Middelburg ingehardloop.

Die koedoe is verdoof en na ’n wildsplaas verskuif, maar het dae later weer oor ’n heining gespring en verdwyn.
Volgs dr Hertzog is nie een van die koedoes ernstig beseer nie en het net kleiner wonde opgedoen.
Kliek hier: https://www.tiktok.com/@middelburgobserver/video/7645645737568521492
