LifestyleLocal LifestyleNews

Die lang pad tussen rommel en brood

Ontmoet Thabo Motau, een van talle herwinners in Middelburg wat voor dagbreek opstaan om te oorleef.

Terwyl die meeste Middelburgers nog slaap, begin Thabo April Motau reeds sy weeklikse tog deur die dorp, op soek na ’n manier om die volgende brood op die tafel te sit.

As jy al ooit op ’n Woensdagoggend gewonder het wie deur jou wieletjiesdrom of swartsak werk voordat die vulliswa uiteindelik opdaag, is die kans goed dat dit iemand soos Thabo is.

Wanneer die dorp stadig wakker word, is die 53-jarige inwoner van Avalon in Mhluzi reeds ure aan die gang. Met ’n kruiwa, ’n paar sakke en ’n lang dag wat voorlê, vertrek hy kort ná 04:00 te voet na Dennesig.

Teen die tyd dat inwoners hul eerste koppie koffie drink, kinders vir skool gereed maak en die oggendverkeer begin, is hy klaar besig om strate deur te stap.

Kilometer vir kilometer.
Straat vir straat.
Asblik vir asblik.

Vir ander is dit bloot ‘rubbish’. Vir Thabo is dit soos koek.

Woensdae reën dit pap vir Thabo. “Ek stap, soek en sorteer elke dag, maar Woensdag is goed! Dan maak ek soet R50,” vertel hy.

Soms bring vullisdag meer as net bottels en blikkies. “Partykeer kry ek klere of iets wat nog bruikbaar is. Dan, ek vat dit huis toe, was dit en maak dit weer mooi.”

Wat ander weg gooi, probeer hy ’n tweede lewe gee.

Teen laatmiddag begin die lang pad huiswaarts, maar sy werksdag is nog nie verby nie. By sy sinkhuisie wag ure se werk voordat die dag se kollekte en skatte gereed is om gelaai te word.

Omdat hy nie oor vervoer het nie, het hy geen ander keuse as om sy versameling skatte spotgoedkoop aan tussenhandelaars te verkoop.

Vir ’n dag se arbeid wat voor sonsopkoms begin en eers ná sononder eindig, verdien hy nie eens ‘n R100-noot nie.

En Thabo is nie alleen nie.

Thabo Motau, een van talle herwinners in Middelburg wat voor dagbreek opstaan om te oorleef.
Thabo Motau. Foto: Carmia Jansen van Vuuren.

Regoor Middelburg maak talle mans en vroue staat op herwinbare materiaal om te oorleef. Hulle vorm deel van ’n informele netwerk wat daagliks plastiek, papier en metaal uit die dorp se afvalstroom verwyder.

Tóg, word mense soos dié dikwels net as “blikkrappers” of “asblikgrouers” afgemaak. Maar soos met meeste dinge in die lewe, is die realiteit meer ingewikkeld.

Onlangs het inwoners op GATVOL! hul frustrasie uitgespreek oor rommel wat ná vullisverwydering in strate agterbly. Sommige het aangevoer dat die grootste morsjorse nié noodwendig die ‘Thabo’s’ van ons dorp is nie, maar eerder vullisverwyderingspanne wat gemors agterlaat.

Agter die kruiwaens, oopgeskeurde sakke en ure in die son, is daar mense wat werk probeer maak, waar werk nie bestaan nie.

Teen die einde van die dag is die kruiwa ligter en die sakke leeg. Vir ’n dag se werk steek hy R50 in sy sak. Môre begin alles weer van voor af.

Kilometer vir kilometer.
Straat vir straat.
Asdrom vir asdrom.

Op soek na iets wat die meeste mense nie eers twee keer sal bekyk nie.
Want vir Thabo April Motau is dit nooit nét rommel nie.
Dis brood.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Carmia Jansen van Vuuren

Carmia is an up-and-coming junior journalist at the Middelburg Observer. She has a burning passion for creative writing and poetry. She is a qualified language educator but fiercely enjoys the challenges that writing and reporting offer. Her focus spreads over different fields, including human interest, hard news, investigative reporting, and sports.
Back to top button