Wieletjiesdrom-herrie nou ’n onverwagse treffer
’n Paartjie van Middelburg het dié snaakse snit, geïnspireer deur frustrasie oor munisipale vullisverwydering, onlangs geskryf.
Vertrou ’n Suid-Afrikaner om ‘n krisis in ‘n grap te omskep.
Terwyl inwoners die afgelope paar weke hul wieletjiesdromme dan uit, dan in moes rol, het Brandt Bodenstein besluit dié dromdrama verdien ’n deuntjie.
Hy en sy vrou, Amanda, het uit pure frustrasie ‘n moontlike nommer een treffer “Wieletjiesdrom-oefening” geskryf.

’n Tong-in-die-kies liedjie wat die afgelope weke se “vat jou drom uit, nee bring jou drom in!” met humor vasvang.
Die liedjie spot met die eindelose in-en-uit, op-en-af parade van wieletjiesdromme wat plaaslike WhatsApp-groepe aan die ping gehad het.
Die in-en-uit stotery van wielietjiesdromme is deesdae die perfekte oefening vir volgende jaar se Comrades, of om bloot net ‘n paar kilogramme af te skud.
Die Bodenstein-egpaar het besluit om te lag eerder as om te huil.
En wie weet? Teen die tyd die groentrok weer ons vullis verwyder, is Middelburg dalk net dié fiksste dorp in die land!
Danksy die gehate wieletjiesdrom.
