LifestyleLocal LifestyleNews

Partytjiegangers hol na polisie oor raadslid se agterstewe

Daar is min dinge so onaangenaam soos kwaai buurmanskap in Middelburg.

Miskien kan jy, liewe leser, vir ons vertel van jou goeie of slegte buurmanskap, natuurlik sonder om buurman verder die josie in te maak.

Net onlangs was bure in mekaar se hare, oor die haasbevolking in Bullerstraat, tot groot vermaak van ander inwoners. Sommige het gekoer oor die oulike hasies en ander was woedend, omdat hulle mooi blomtuine tot woestyn gevreet is deur die hase.

’n Inwoner het so kwaad geword, nadat iemand hasies in haar erf wou vang, dat sy ’n beroerte gekry het.

Jare gelede het kwaai buurmanskap in die Middelburg Landdroshof beland.

Daar was ’n raadslid wat in Oribistraat gebly het, wat erg omgesukkel was met sy bure se partyties en gepaardgaande geraas.

Een Vrydagnag het hy sy broek afgetrek en tot die afgryse van sy bure, was daar skielik ’n paar gerespekteerde wit boude van die agbare raadslid teen hulle sitkamervenster.
Hulle is polisie toe.

Die raadslid is voor ’n munisipale verkiesingsdag skuldig bevind, die storie het op die Middelburg Observer se voorblad verskyn, hy het sy sitplek op die raad verloor, maar appél aangeteken teen sy skuldigbevinding.

Die hof het hom later onskuldig bevind “want die reg moet hom nie bemoei met beuselagtighede nie”. En toe kry ons muurpos.
Muurpos van die bure af.

Dit het alles ’n paar jaar gelede begin.

Het een feestyd ’n oorvloed geskenke gekry, waaronder biltong.
Het gehoor die bure kuier saam met vriende in hulle lapa en het een van die “oorbodige” biltongborde op die muur gesit.

Dit is beantwoord met twee glasies Jaggermeister. Daarna was daar al varsgebakte sjokolade koek, ’n kombersie, broodjies, vleis en ietsie met skop, op die muur.

Het verlede week ’n kort en kriptiese WhatsApp-boodskap gekry: “Julle het muurpos”.

Op die ses voet baksteenmuur was twee pikante glasies, waarop daar staan: “Muurpos; waar klein gebare groot stories word”.

Daar was ook ’n briefie:

“Elke goeie storie het ’n begin.
“Ons s’n begin nie met ’n groot avontuur nie, maar met ’n muur tusssen twee huise.
“Oor hierdie muur het daar al wyn getrek…
“Nagereg.
“Vleis.
“Broodjies…
“En sommer net ’n bietjie omgee.
“Daarom verklaar ons vandag hierdie twee glasies as die amptelike Muurpos-koppies.
“Mag hierdie koppies nog vir jare tussen ons huise heen en weer reis, want uiteindelik is dit nie die inhoud wat tel nie…
…dis die mense aan weerskante van die muur.”

Skuus, moet die storie hier kortknip.

Wil gou gaan kyk of daar nie muurpos is nie…

KYK | https://www.tiktok.com/@middelburgobserver/video/7661906023594315028?is_from_webapp=1&sender_device=pc

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button