News

Sport andermaal politici se speelbal

Kinders ly onder kwotastelsel wat hulle nie begryp nie.

Het jy al vir ’n elfjarige seun verduidelik hy het nie die provinsiale span gehaal nie, weens ’n kwotastelsel?
Wil weer vra, het jy al vir ’n elfjarige seun wat pas sy hart uitgespeel het, gesê hy is nie in die span nie, weens kwotas?

Kwotas? Al was hy die beste speler in sy posisie? Al het hy bebloed en stukkkend van die veld gekom? Hy wat nie ras raak sien nie. Wat niks weet van apartheid nie.

Of jy het jy al vir ’n seun gesê jy onttrek hom aan die Bokkieweek want dit is ’n era waar die “regse”-etiket aan sy en jou nek gehang gaan word? Net ’n ouer wat deur so pynigende ervaring gegaan het, sal verstaan.

Die nasionale sportweke is weer die afgelope week aangebied, waaronder die Bokkieweek. Soos elke jaar het politici politieke punte probeer behaal met hulle uitsprake. Het kinders wat net wil deelneem andermaal ’n politieke speelbal geword.

Die omstredenheid het al voor die weke begin toe die Oostelike Provinsie Rugbyunie twee spelers se name sonder die afrigters se toestemming uit die Grant Khomo-span geskrap het weens kwotateikens. Die span se bestuur het die politieke inmenging skerp gekritiseer.

Nou het die Afrikaans Volkseie Sport-week, of Bokkieweek, weer in die spervuur gekom.
Suidoos-Transvaal en Laeveld het aan die week deelgeneem, met talle ouers van Middelburg en Nelspruit wat ook die week bygewoon het.

Dirk Hermann het in sy kommentaar op die kritiek gesê “News24 en Panyaza Lesufi is histeries oor die Bokkieweek”. “Ek was dié week self by Bokkieweek. Die kinders het dit eenvoudig geniet. Dit is ’n normale week waar kinders hulle talente onbevange kan uitleef. Ouers neem verlof vir die week, kamp in die omgewing, kampstoele word om die velde uitgepak en almal geniet dit saam”.

“Dit is meer as net ’n sportweek; dit is ook ’n kultuurbelewenis. “Niemand daar dink in rasterme nie; hulle dink aan kinders wat dit geniet omdat dit normaal is. “’n Kultuurgemeenskap wat verantwoordelikheid vir sy kinders neem, is iets besonders. Daar is niks fout daarmee nie – inteendeel, dit is iets wat omarm moet word.

“Bokkieweek is ook ’n reaksie op die uitsluiting van kinders. “By ander proewe beleef kinders dat hulle gekeur word op grond van hoe hulle lyk en nie op grond van hoe hulle speel nie. Bokkieweek is ’n normale reaksie daarop. Dit sluit juis kinders in wat deur ’n rasstelsel uitgesluit word.

“Die abnormaliteit in sport is raskwotas vir kindertjies. Die abnormaliteit in sport is rasskeidsregters wat spanne op grond van rasgetalle kan diskwalifiseer. Die rasbedeling in sport is die ware abnormaliteit.
“Lesufi behoort eerder ontsteld te wees oor die rasbedeling in sport wat teen kindertjies diskrimineer, en nie oor ’n normale week waarin kinders net kan speel en dit geniet nie.”

Theunis Smith het op sosiale media gevra “wat is Bokkieweek eintlik?”
“Die Gauteng-premier, Panyaza Lesufi, en die minister van sport, Gayton McKenzie, het hul woede uitgespoel oor ’n sportbyeenkoms vir Afrikaner-kinders. Hulle noem dit “apartheid-nostalgie” en “’n rassistiese poging”.

“Is ’n groep kinders wat saam sport beoefen regtig ’n bedreiging vir die demokrasie?”
Hy sê Bokkieweek is ’n jaarlikse nasionale sporttoernooi vir Afrikanerjeug tussen die ouderdomme van 13 en 19. Dit het in 1991 begin toe ’n groep Afrikaners, gelei deur Daan Nolte, besluit het om ’n eie sportgeleentheid te skep. Nolte, ’n voormalige Konserwatiewe Party-LP, het destyds gesê dat “’n tyd sal aanbreek wanneer die kinders van my mense nie meer sportgeleenthede sal hê nie”.

Vandag, 35 jaar later, het Bokkieweek gegroei tot ’n byeenkoms wat jaarliks 5 000 deelnemers en beamptes lok, met ’n totaal van 9 500 ondersteuners ingesluit. Die toernooi bied rugby, netbal en hokkie aan, en die deelnemers kom van 16 AVS-unies regoor die land. Die toernooi se slagspreuk is: “Afrikanersport vir Afrikanerkinders: Waar sportsterre nog ’n regverdige kans kry!”

Lesufi het gesê: “Drie en ’n half duisend wit Afrikaner-skoolkinders het die apartheid-lied, Die Stem, gesing tydens die openingseremonie. Die spanne ding teen mekaar mee met die name van apartheids-provinsies.” Minister McKenzie, het Lesufi se stellings as “utter nonsense” beskryf en gesê hy sal nie die week toelaat nie.

Izak du Plessis het in sy weeklikse Nuuspod sy volgelinge se mening gevra oor die omstredenheid.
“Die hoof- uitvoerende beampte van die Bokkieweek, dominee Peter Stans, het teruggekap teen kritiek van die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, en die minister van sport, kuns en kultuur, Gayton McKenzie, oor dié sporttoernooi wat van 6 tot 10 Julie in Mookgophong plaasgevind het.

Die herrie het losgebars ná ‘n berig deur News24 wat die geleentheid as ’n apartheid-era-toernooi slegs vir Afrikaners bestempel het en berig het dat nasionale sportliggame hulself daarvan distansieer. Duisende rugby-, hokkie- en netbalspelers, saam met ses honderd beamptes en duisende ondersteuners, het die week bygewoon wat deur Afrikaner Volkseie Sport aangebied en deur AfriForum geborg word.

“Premier Lesufi het op die sosiale media platform X gevra dat deelnemers op ’n swartlys geplaas word, terwyl minister McKenzie die toernooi as pure onsin en apartheid-nostalgie bestempel het. In sy reaksie het dominee Stans beklemtoon dat Bokkieweek daar is vir die Afrikanerjeug en dat elke kultuurgemeenskap die reg het om sy taal en tradisies vreedsaam uit te leef.”

Mense het met kru-taal wat nie gepubliseer kan word nie, op sy versoek reageer en uitgevaar teen Lesufi en McKenzie. Voorsitter van Suidoos-Transvaal, Jonathan Haarhoff, het gesê die Bokkieweek bied 3200 geleenthede aan Afrikaner seuns en dogters om op provinsiale vlak deel te neem. Suidoos gee aan 202 leerders so ’n geleentheid.

“Die hoë vlak van mededinging bied ontwikkeling aan spelers om onder druk besluite te maak om die hoogste sport te bereik.” Hy sê die Bokkieweek is ’n eie kultuur- en sportgeleentheid net soos die Maccabiweek slegs vir Jode. “Die ontwikkeling van Afrikaner jeug is vir ons belangrik.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button