Oulike hasies word plaag in Dennesig en Kanonkop
Australië se 160-jarige haasstryd dien as waarskuwing vir Middelburg.
Pieringoog Al Debbo het gesing oor hasie:
En hasie, hoekom is jou stert so kort?
Hasie, hoekom is jou stert so kort?
Hasie, hoekom is jou stert so kort?
En wat het van jou stertjie geword?
Nou staan inwoners van Dennesig en Kanonkop grootoog en kyk hoe ’n haasbevolking, wat aanvanklik as oulike troeteldiere aangehou is, vermeerder. En hulle sing nie meer: “Hasie, wat het van jou stertjie geword?” nie. Hulle brom eerder: “Wat het van ons tuine geword?”
Toe die hasies in Bullerlaan hulle opwagting maak, is daar gekoer oor die “oulike” diertjies. Die inwoner, wie se naam liefs verswyg word, het ’n hokkie in sy erf gebou en haaskos gekoop om die oulike, wollerige diertjies te voer. Ander inwoners het ook begin om die hasies te voer.

As hulle maar net eers gaan ondersoek instel het oor haas se kind, sou hulle waarskynlik nie so maklik gedink het die hasies is oulik nie. Maande later het die aanvanklike haaseienaar van die hok ontslae geraak en begin om die hase te vang en elders te hervestig.
Maar as daar een ding is wat ’n haas goed kan doen, is dit om teel. Die hase maak nou nie net in Jopie Fourie- en Bullerlaan nie, maar ook inSipresweg in Kanonkop hulle opwagting. Behalwe vir teel, kan hase ook verniel.
Beddings en grasperke word opgegrawe en blomme word gevreet totdat daar niks oorbly nie.
Nou het ’n inwoner van Jopie Fourielaan ’n video aan die Middelburg Observer gestuur waarin gewys word hoe ’n verpesting die oulike hasies kan word.

Volgens die video sukkel Australië al 160 jaar met die “verpesting”, soos hulle dit noem.
Die hase is al selfs uit die lug vergiftig. Elf vliegtuie is gebruik om gif op die hase los te laat, en hulle is selfs met ’n dodelike virus ingespuit om die getalle te probeer beperk.
Maar die hase teel voort… Die land verloor jaarliks $200 miljoen aan verlore produksie, met 70% van Australië wat volgens die video met ’n haasprobleem te kampe het. Sowat nege hase is reeds in Dennesig doodgery, en die aanvanklike haaseienaar het video’s aangestuur waarin hy ’n klompie hase gevang het.
Dit het egter nie juis ’n duik in die haasbevolking gemaak nie. En as hulle so aanhou teel, gaan nie net Dennesig en Kanonkop se strate vol springende, vretende en telende hase wees nie, maar dalk die hele dorp.