Die arrestasie volg nadat polisie na bewering vermoedelik gesteelde kragkabels ter waarde van sowat R15 000 en ’n ongelisensieerde vuurwapen in hul besit gevind is.
Luyanda Zulu (24) en Bongani Jiyane (29) het op 17 Augustus in die Mbibane-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en ’n ongelisensieerde vuurwapen.
Patrollie lei to arres
Volgens die SAPD was ’n misdaadvoorkomingspan omstreeks 02:00 op patrollie toe beamptes ’n wit Nissan 1400-bakkie waarin die twee mans was, afgetrek en deursoek het. Kragkabels is agter in die voertuig en ’n vuurwapen by die bestuurder gevind.
Die bestuurder kon glo nie ’n lisensie of enige wettige dokumentasie vir die wapen toon nie.

Die wapen is gevolglik deur die polisie gekonfiskeer.
Verdagtes bly geboei
Die twee verdagtes is in aanhouding gehou hangende verdere ondersoek en sou op 18 Augustus weer in die hof verskyn. Die uitslag van die hofverskyning was teen perstyd nog nie beskikbaar nie.
Lt.genl. Apaphia Modise, provinsiale kommissaris van die SAPD, het die beamptes se optrede geloof.

Volgens Modise wys die inhegtenisnemings dat infrastruktuurmisdaad ernstig aangepak word. Sy het inwoners ook aangemoedig om verdagte aktiwiteite rondom belangrike infrastruktuur by die polisie aan te meld.
Vaalbank is ’n groeiende gebied rondom Middelburg se hoofwaterwerke.
