Hoofseun by berugte brug beroof
Oudhoof: "Mens dink jy leef in ’n veilige kokon, maar die realiteit is, dis nêrens veilig nie"
Die 2027 hoofseun van HTS Middelburg is van sy selfoon by die berugte Coetzeestraatbrug beroof.
Een van die rowers het ’n pistool uitgepluk en aan Arno Bothma gesê, “Don’t make this hard.“
Hy was laat vir ’n krieketoefening en het besluit om vinnig ’n kortpad die trappe op tot op die brug te vat.
“Ek het gesien die twee sit daar en het verwag hier kom moeilikheid,” vertel hy.
Sy pa sê sy seun is maar ’n ‘snaakse’ kind met ’n besonderse geaardheid. Ondanks die pistool wat hom in doodgevaar geplaas het, het hy kalm met die rowers gepraat en sy iPhone 13 sonder slag of stoot oorhandig.
“Gelukkig het hulle fisies niks aan my gedoen nie, maar ek hoop nie iemand anders kom so iets oor nie.”
Die ergste is nie net die verlies aan die selfoon nie, maar al die herinneringe wat daarop gestoor was.

Die hoof van HTS Middelburg, mnr. Malem van Heerden, het die voorval bevestig.
Die voorsitter van die skool se beheerliggaam, Gehard Holtshauzen, sê leerlinge word aangeraai om liefs in groepe na die sportvelde te loop, wat aan die westekant van die Johan Magagulastraat is.
“Daar is ’n gebeurlikheidsplan in plek.”
Arthur Hill van Dagpatrollie gemeenskapsveiligheidgroep, sê hy het misdaadvoorvalle wat by die brug plaasgevind het, by wyle Hoppie van Jaarsveldt, die vorige hoof, aangemeld, sodat leerlinge beveilig kan word.
Dagpatrollie het hulle na die jongste toneel gehaas en volg tans leidrade op.
Navrae is aan die SAPD gerig, wat gesê het hulle sal die voorval ondersoek.
- Daar is min inwoners wat bewus is dat die brug na mnr. Pikkie Coetzee, die oud Lid van die Parlement, vernoem is. Die stadsvaders wou eers die hele Coetzeestraat na hom vernoem, maar het later daarteen besluit. Net die brug is toe na hom vernoem. Die straat is later in elk geval herdoop na John Magagulastraat.
- ’n Vorige hoof van HTS Middelburg, Dolf Jonker, is in Augustus 2015 vroegoggend by die skool oorval en beroof. Hy het toe gesê: “Mens dink jy leef in ’n veilige kokon, maar die realiteit is, dis nêrens veilig nie,”
