Die week in Middelburg se geskiedenis: Die storie agter die bekende volksliedjie ‘My Sarie Marais’
Die verhaal van Jacobus Petrus Toerien en sy vrou, Sarie Maré, werp lig op Middelburg se moontlike verbintenis met die ontstaan van die bekende volksliedjie ‘My Sarie Marais’.
“My Sarie Marais is so ver van my hart, ek hoop om haar weer te sien …”
Of moet dit dalk “My Sarie Maré” wees?
Hoe het hierdie bekende volkswysie met Middelburg te make?
Op 18 November 1859, 167 jaar gelede, is Jacobus Petrus Toerien in die Paarl, Kaapkolonie, gebore. Sy naam word direk verbind met die bekende volkswysie “My Sarie Marais”, wat selfs by die Olimpiese Spele per abuis as Suid-Afrika se volkslied gespeel is!
Hy was een van nege kinders van Jacobus Petrus Toerien (1827-1907) en Anna Jacoba Elizabeth (1839-1899). Hy is op 11 Desember 1859 in die Paarl gedoop.


Hy het sy skoolopleiding omstreeks 1877 aan die Paarl Gimnasium voltooi en daarna eers as bankklerk en later as subredakteur van Di Patriot gewerk. Die koerant was verbonde aan die drukkersfirma D.F. du Toit & Kie. Daniël Francois du Toit, beter bekend as Oom Lokomotief, het Di Patriot op 15 Januarie 1877 gestig en was die eienaar van die firma.
Toerien was ook lid van die Union Debating Society in die Paarl. Sy ernstige geaardheid het hom die bynaam Die Filosoof besorg.
Omstreeks 1883 is hy deur die Afrikanerbond na Pretoria gestuur om ’n Nederlandse koerant, De Republikein, te begin en as redakteur daarvan op te tree.
Hy was ook as sekretaris by verskeie maatskappye betrokke en het op die aandelemark gespekuleer, waar hy uiteindelik sy geld verloor het.

Huwelik
Op 19 Desember 1884 is hy in Pretoria met Susara Margaretha (Sarie) Maré getroud. Dit is waar die verbintenis met die bekende volkswysie begin.

Sy was die oudste dogter van Jacob Philippus Maré (1823-1900) en sy tweede eggenote, Cornelia Susanna Jacoba Erasmus (1841-1874). Jacob Philippus was vyf maal getroud en het 15 kinders gehad.
Sarie is op 15 April 1869 op die plaas Eendraght in die Suikerbosrand-distrik van Heidelberg, Zuid-Afrikaansche Republiek, gebore. Haar moeder is in 1874, toe Sarie vyf jaar oud was, oorlede. Dit was waarskynlik tydens die geboorte van haar broer, Daniel Elardus Erasmus Maré, wat ook gesterf het.
Sarie se halfbroer, Jacob Philippus (Japie) (1878-1902), is ná verwonding tydens die Anglo-Boereoorlog oorlede. Hy is in die Ou Begraafplaas in Middelburg begrawe. Hy was die seun uit sy vader se vierde huwelik met Johanna Catharina Louise Schabort (1842-1895).
Sarie was 17 jaar oud toe sy en Jacobus Petrus getroud is. Haar vader het tot die huwelik ingestem. Jacobus Petrus was op daardie stadium 25 jaar oud.
Jacob Philippus Sr. was later lid van die Uitvoerende Raad van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Hy het die bynaam Jors Voeter gehad vanweë sy vermoë om sy standpunt te verdedig. Hy het aan die Slag van Bloedrivier deelgeneem en was ’n ondertekenaar van die vredesverdrag ná die Eerste Vryheidsoorlog, wat op die Slag van Majuba gevolg het. Jacob Maréstraat in Pretoria is na hom vernoem. Hy is in die Ou Begraafplaas in Middelburg begrawe.

Jacob Philippus Sr. het ’n plaas naby Heidelberg besit, asook een by Potchefstroom, in die wyk van die Mooirivier. Hy het in Potchefstroom gewoon, aangesien twee van sy eggenote daar oorlede is. Op ’n onbekende datum het hy na Middelburg verhuis. Teen 1899 het hy op erf 241 in Wesstraat gewoon.
Volgens oorlewering het Sarie en Jacobus Petrus mekaar in 1883 ontmoet, toe sy 16 jaar oud was. Hy het as verslaggewer van Ons Klyntji ’n onderhoud met haar vader gevoer. Hulle is ’n jaar later getroud.
Die egpaar het waarskynlik tussen 1886 en 1888 in Rustenburg gewoon, aangesien drie van hul vier kinders daar gedoop is. Dit is onbekend of Jacobus Petrus die koerant vanuit Rustenburg uitgegee het.


Vestiging in Middelburg
Teen 1896 het Jacobus Petrus hom in Middelburg gevestig en ’n nuwe koerantonderneming begin. Hy het onder meer die Barberton and Middelburg Herald en die Belfast Heraut uitgegee.
Hy was ook die redakteur van godsdienstige publikasies soos Middernag en Maranatra. Vir sy skryfwerk het hy die skuilnaam Jepete of Jepeetee gebruik.

Anglo-Boereoorlog
Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het Jacobus Petrus op 3 Oktober 1899 as lid van die Middelburgse Kommando gemobiliseer. Hy was aanvanklik aan die Natalse front betrokke en het later in die Steenkampsberge, in die Lydenburg-distrik, diens gedoen. Hy is op 30 April 1901 naby Lydenburg gevange geneem.

Hy is as krygsgevangene na Middelburg gebring, maar danksy die tussenkoms van Jan Coenraad Schutstal van Woudenberg kon hy in Middelburg agterbly.
Volgens Sarie het hy ná sy gevangeneming die Eed van Neutraliteit afgelê, maar geweier om die Eed van Getrouheid aan die Britse Kroon af te lê.
In ’n brief aan die Unie-owerhede, gedateer 30 November 1922, het sy namens haar oorlede man om die Zuid-Afrikaansche en Oranje-Vrystaatse Oorlogsmedalje aansoek gedoen. Die aansoek is deur Gert du Toit, die oud-landdros en latere lid van die Koloniale Volksraad, ondersteun. Dit is egter afgekeur.
Sy rol tydens die oorlog is daarmee onder die vergrootglas geplaas. Die feit dat hy ‘deur die tussenkoms van vriende’, in hierdie geval Van Woudenberg, nie soos ander Middelburgers na krygsgevangenekampe op Sint Helena of in Indië gestuur is nie, maar in Middelburg kon agterbly, het vrae laat ontstaan.

As skrywer van die volkswysie ‘My Sarie Marais’
Goud is in 1873 by Pelgrimsrus en in 1886 by Barberton ontdek. Amerikaanse prospekteerders was by albei goudvelde bedrywig. In 1886 is goud ook aan die Witwatersrand ontdek.
Na bewering het Toerien die liedjie “Sweet Ellie Rhee” by Amerikaanse mynwerkers gehoor. Die lied het sy oorsprong in die Amerikaanse Burgeroorlog (1861-1865). Dit is deur Septimus Winner, die skuilnaam van Alice Hawthorne (1826-1902), geskryf. Daar was egter ook ’n vroeëre weergawe van die lied, wat in 1853 deur C.E. Steuart en James W. Porter geskryf is.
Jacobus Petrus het nuwe woorde op die melodie van “Sweet Ellie Rhee” geskryf, geïnspireer deur sy geliefde Sarie Maré.
Hoewel daar onsekerheid bestaan oor wie die oorspronklike lirieke geskryf het, word Toerien algemeen as die waarskynlike skrywer daarvan beskou.
As in ag geneem word dat hy Sarie eers in 1883 ontmoet het en hulle in Desember 1884 getroud is, kan afgelei word dat die liedjie waarskynlik in dié tydperk ontstaan het. In die eerste strofe verwys hy na Sarie Maré, haar nooiensvan.
Daar word algemeen aanvaar dat die woorde wat vandag bekend is, nie noodwendig die oorspronklike teks verteenwoordig nie. Die verwysings na die oorlog is moontlik later bygevoeg.



Hyperlink na opname van die lied: https://www.youtube.com/watch?v=wSV6zccQ2Js
Daar bestaan onsekerheid oor hoe Sarie Maré se van na Marais verander het, hoewel ’n drukfout as moontlike verklaring genoem word.
Die tweede en vierde strofes is waarskynlik later bygevoeg. Volgens die FAK is die derde strofe waarskynlik deur B.A. de Wet geskryf.
Daar is geen bewys dat Jacobus Petrus ooit in die Noord-Kaap was of die sand by Upington besoek het nie. Die Middelburgse Kommando was ook nie by die twee Kaapse veldtogte tydens die Anglo-Boereoorlog betrokke nie. Die woorde van die tweede en vierde strofes kan dus nie op Jacobus Petrus se lewensverhaal van toepassing wees nie.
Jacobus Petrus het ook enkele godsdienstig georiënteerde gedigte geskryf. Die bekendstes was “Folg my en Dag en Nag”, wat onderskeidelik in November 1897 en Februarie 1899 in Ons Klyntji gepubliseer is.
Hy het ook twee novelles geskryf: Pieter Leseur, wat van November 1897 tot Julie 1898 in Ons Klyntji verskyn het, en Di dri broers, wat van Februarie tot Desember 1904 gepubliseer is. Albei novelles was van wisselende gehalte.
Sarie was self ’n diep godsdienstige vrou. Volgens beskikbare inligting was selfverheerliking geheel en al in stryd met haar nederige geaardheid. Sy het haar lewenslange verbintenis met die liedjie stilgehou.
Hoewel afdoende bewys dat Jacobus Petrus die woorde geskryf het, ontbreek – aangesien die lirieke nooit onder sy naam of sy skuilname Jepete of Jepeetee gepubliseer is nie – dui alle beskikbare inligting daarop dat die woorde van “My Sarie Marais” oorspronklik vir sy latere vrou geskryf is.
Sarie was gekant teen die popularisering van die liedjie, wat sy as ’n intiem-persoonlike besitting beskou het. Na bewering het sy die woorde en die oorspronklike gediggie ná haar dood deur een van haar dogters laat vernietig.
Na-oorlogse tydperk
Ná sy gevangeneming het Jacobus Petrus in 1901 na sy vrou en kinders in Middelburg teruggekeer.
Sy drukkery en boekwinkel op die dorp is later deur ’n brand verwoes. Dit het meegebring dat baie van sy oorspronklike skryfwerk verlore gegaan het en die gesin die meeste van hul besittings verloor het. Dit is onbekend waar die boekwinkel geleë was. Dit wil voorkom of die gesin daarna finansieel gesukkel het.
Twee van die egpaar se dogters is in Middelburg oorlede en in ongemerkte grafte in die Ou Begraafplaas begrawe:
- Susara Margaretha (20 Mei 1888 – 19 September 1910), wat aan konvulsies oorlede is en in graf 667 begrawe is.
- Cornelia Susanna Jacoba (31 Januarie 1886 – 6 Julie 1914), wat aan ’n aangebore hartdefek en hartversaking oorlede is en in graf 666 begrawe is.


Jacobus Petrus is op 3 Mei 1920 in Middelburg aan malaria oorlede. Hy is in graf 1249 in die Ou Begraafplaas begrawe. Sy beroep word op sy doodsertifikaat as korresponderende klerk by die Middelburg Koöp Vereniging aangedui.

Om sy nagedagtenis te eer, het die begrafnisonderneming AVBOB ’n grafsteen vir sy graf geskenk. Dit is op 16 Desember 1995 onthul.

Ná Jacobus Petrus se dood in 1920 het Sarie by haar enigste oorlewende dogter, Anna Jacoba Elizabeth (9 Februarie 1887-), in 175 Monumentweg in Bloemfontein gaan woon.
Sarie is op 22 Desember 1939, op 73-jarige ouderdom, in armoede aan hartversaking oorlede. Sy is in ’n ongemerkte graf in die Memoriam-begraafplaas, oorkant die Nasionale Vrouemonument, begrawe.
Die egpaar se enigste seun, Jacob Philippus Maré Toerien (23 Maart 1893 – 3 Augustus 1969), het op ’n plaas naby Ermelo geboer.

Op 10 Oktober 1995 is ’n grafsteen op Sarie se graf opgerig. ’n Doringboom is ook daar geplant om mense te herinner dat sy eens langs so ’n boom, daar onder by die mielies aan die Mooirivier, gewoon het.

Lied word bekende volkswysie
Teen 1899 was Jepete se liedjie reeds ’n treffer in Pretoria. Tydens die Anglo-Boereoorlog het dit nie net onder die Boerekommando’s gewild geword nie, maar ook by ander soldate aanklank gevind.
Die lied het later wêreldbekend geword omdat duisende Suid-Afrikaanse soldate dit tydens die Eerste en Tweede Wêreldoorloë gesing het. Tydens die laasgenoemde oorlog het ’n buitepos van soldate in Noord-Afrika selfs die naam Sarie Marais Calling gekry.
Die lied is ook die amptelike lied van die Girl Guides in Sri Lanka (Ceylon). Hulle het dit aan die begin van die vorige eeu by die Boerekrygsgevangenes daar gehoor.
In die 1930’s is dit tydens die Olimpiese Spele in Saint Louis verkeerdelik as Suid-Afrika se amptelike volkslied gespeel.
Tydens die eerste internasionale radio-uitsending tussen Suid-Afrika, Brittanje en Amerika het die sangeres Gracie Fields “My Sarie Marais” gesing ter ere van die verjaardag van mev. Issie Smuts, die vrou van die destydse eerste minister, genl. Jan Smuts.
Die naam het ook op ander maniere voortgeleef. Die eerste Suid-Afrikaanse seiljag is Sarie Marais genoem, en duisende besoekers het al in die Durbanse hawe op die Sarie Marais-plesierboot gevaar. Die bekende vrouetydskrif Sarie is na haar vernoem, en die eerste Afrikaanse rolprent het ook die naam Sarie Marais gedra.
Duitsers het selfs ’n pienk roos gekweek wat hulle Sarie Marais genoem het. Van dié rose is onder meer voor die Pantserskool op Tempe, naby Bloemfontein, geplant.
Die lied is in verskeie tale vertaal, onder meer Frans, Italiaans, Russies en Spaans. Weens die gewildheid daarvan is talle strofes later bygevoeg by die oorspronklike twee strofes wat Jepete geskryf het.
Selfs die Britse Royal Marines marsjeer op die melodie as hul regimentsmars! Hoe die Boere daaroor sou voel, is ’n ander vraag.
Slot
In Middelburg het ’n betreklik onbekende man gewoon en is hy begrawe, maar die woorde van sy volkswysie het wêreldwyd bekend geword. Tog het hy arm gesterf en is hy aanvanklik in ’n ongemerkte graf begrawe.
Gelukkig is sy graf vandag weer herkenbaar, en is dié van sy dogters ook deur Middelburg Erfenis met blou erfenisbordjies gemerk.
Sarie Maré, die vrou aan wie hy sy bekende liefdeslied opgedra het, rus egter steeds ver van sy hart – in Bloemfontein.
Die bibliografie is by die outeur beskikbaar.