Sport

Die dag toe ’n 84-jarige vir Brandmuller geïnspireer het

Waarom trap hierdie Care Riders soveel kilometers oor slegte paaie, wind en weer?

In 2019 het André Brandmuller gesien hoe die 84-jarige Arthur Duncan saam met sy kleinseun die driedaagse Sani2C-bergfietswedren met vreugde voltooi.

“Dit het het my laat besef dat ouderdom nooit jou geluk kan steel nie. Daardie prentjie herinner my om alles te geniet wat ek kies om te doen – van opstaan in die oggend tot die Munga ry.”

Vandag is Brandmuller die inspirasie vir talle inwoners met die wyse waarop hy saam met sy span die Middelburg Care Village bedryf, tot sy betrokkenheid by Hoërskool Middelburg se beheerliggaam, die Early Riders én die Care Riders.

Hy is een van die dorp se deelnemers aan die Munga-bergfietswedren tussen Bloemfontein en Wellington.

  • Skool: Middelburg Hoërskool.
  • Ouderdom: 60.
  • Hoe lank ry jy al fiets: Sedert 2013.
  • Hoeveelste Munga: Dit is die vyfde keer. Een onvoltooide solopoging en vier equipes (aflosse).
  • Watter skof ry jy en afstand: Tweede skof – 223 km.
  • Wat gaan vir jou die grootste uitdaging wees: Die grootste uitdaging is altyd om die bietjie ruskans wat jy kry behoorlik te gebruik, en ek hoop dat die hitte en die wind en sinkplaatpad nie te erg sal wees nie.
  • Hoe benader jy die Munga: Die Munga is nie iets wat jy beplan nie. Ons vat hom soos hy kom en hanteer elke element (wind, weer, pad ) op sy eie meriete. Ek kan net my beste gee.
  • Waarna sien jy die meeste uit: Die kameraderie en samesyn van ’n groep likeminded fietsryers, die lekker lag, saamwees en die ontmoet van spesiale mense langs die pad.
  • Die minste: Die hitte van die dae. Ek hoop die bussie se lugreëling werk baie goed!
  • Jou leuse in die lewe: “For God has not given us the spirit of fear, but of power, and of love, and of a sound mind” – 1 Timothy 1:7.
  • Wat eet en drink jy in lang wedrenne: Ek eet en drink normale kos soveel as moontlik. My stapelvoedsel op lang ritte is grondboontjies en rosyne met ’n paar piesangs. By die waterpunte van die Munga word ons behoorlik bederf met goeie kos. Dit werk vir my! Ek kom glad nie reg met gels en energiestafies nie.
  • Waarom vir die Care Riders: Die Care Riders is al vir 12 jaar ’n groep fietsryers wat op drie vlakke ’n verskil maak in die lewens van kinders van die Middelburg Care Village. Eerstens help hulle om fondse in te samel om dit vir die Middelburg Care Village makliker te maak om na die kinders in hulle sorg om te sien. Tweedens maak die Care Riders die gemeenskap bewus van die behoeftes van die Middelburg Care Village en die kinders in hulle sorg. Dit het oor die afgelope jare daartoe gelei dat soveel nuwe mense en besighede betrokke geraak het by die Middelburg Care Village. Hierdie betrokkenheid maak dit moontlik om soveel meer vir die kinders te doen. Laastens is die Care Riders ’n voorbeeld vir die kinders by die Middelburg Care Village en vir ander wat swaarkry, want hulle wys deur hulle voorbeeld dat determinasie en harde werk jou uiteindelik die moeilikste doelwitte sal laat bereik.
  • Boodskap aan rusbankridders: Ridders van die rusbank, gaan uit en beleef die wind in julle seile, gaan lê in die middel van die nag op ’n Karoopad en kyk vir die sterre. Dit is ’n vreugde wat onbeskryflik is. Dit is nooit te laat nie!
  • Enigiemand wat jy wil bedank: My vrou wat so baie in die agtergrond doen om die Care Riders te laat werk en so geduldig is met my baie planne. En dan almal wat ons ondersteun met ’n telefoonoproep of kommentaar op sosiale media. Veral vir Junior van Niekerk van Nashua wat die Care Riders al vir 12 jaar ondersteun en Neels Liddle van Waterzone wat hierdie jaar aan boord gekom het. Elke Care Rider wat of by die Tour de Farm of saam met ons na die Munga toe is in die verlede en die wat hierdie jaar saamgaan – julle is almal spesiaal. Dankie aan my afrigter wat ’n groot verskil gemaak het aan ons voorbereiding, Johan Moller. Soos PC Nell sal sê: “Jy is ’n yster!”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button