Observer Daller

Video: Watergat verwoes in vlammehel

Watergat in Groblersdal is in die vroeë oggendure in ’n brand verwoes.

“Watergat is ’n plek baie ná aan my hart, asook die mense wat dit kom ondersteun het. Daar is soveel herinneringe wat saam op in vlamme is,” sê me. Linda Strijdom, eienaar van Watergat, wat vanoggend totaal afgebrand het.

Me. Strijdom is sedert 2014 die eienaar van Watergat, ’n kuierplek naby die Groblersdal Rolbalklub.

Gunmar het omstreek 23:44 alarmseine ontvang dat die Multizone Beams afgaan.

Watergat het vanoggend totaal afgebrand. Foto: Verskaf.

Met hul aankoms het hul gesien dat Watergat reeds brand, waarna hul dadelik die brandweer en me. Strijdom in kennis gestel het. Kort voor middernag het me. Strijdom by die toneel opgedaag.

“Die vlamme was reeds te hoog en niks was te redde nie. Watergat het bestaan uit vier mure en ’n grasdak. Dit was meer dag as enigiets anders. Daar is niks oor nie,” het sy gesê.

Binne minute was die grasdak totaal in vlamme verswelg. Foto: Verskaf.

Die grasdak, alkohol en vlambare hoedjie memorabilia het die vlamme aangehits en binne minute was daar byna niks oor nie.

Teen middernag was die brandweer op die toneel en dadelik ingespring om teen die vlamme te stry.

Brandweermanne het geveg om die vlamme te blus. Foto: Verskaf.

Omstreeks 01:49 het die brandweer die laaste vlamme geblus, maar me. Strijdom sê die gebou het teen vanoggend nog gesmeul.

“Ons weet nie hoe of wat die brand veroorsaak het nie. Die kameras het natuurlik ook gebrand, maar die inligting behoort op die Cloud gestoor te wees. Ek sal later vandag gaan uitvind of die diensverskaffers my sal kan help om te sien of ons nog die beeldmateriaal het of kan aftrek. Eintlik maak dit nie saak nie. Nie eers die voorraad wat verloor is maak vir my saak nie. Dit gaan vir my oor die herinneringe wat verlore is.”

Watergat smeul nog ná die brand. Foto: Verskaf.

Volgens haar het hul kameras en alarmstelsels oral by Watergat. “Ek glo nie dis brandstigting nie, die kameras en alarms op die dak was só sensitief dit sou afgaan vir die kleinste goggatjie. Ek het geen alarms ontvang nie. Net die oproep van Gunmar. Ek weet ook nie hoe anders die brand sou kon ontstaan nie. Ek sit gewoonlik alle elektroniese items af, voor ek die perseel verlaat.”

Watergat was nie oop Sondag of Maandag nie, as gevolg van die vakansiedag, maar sê me. Strijdom, “as ons daar was, kon ons dalk nog die brand gekeer het. Al waarvoor ek dankbaar is, is dat niemand beseer is nie.”

@die.daller

♬ original sound – Die Daller

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Back to top button