Human is vise-president!
Deur die jare het Middelburg as dorp baie vir rugby in die provinsie beteken. Dink aan die ryke geskiedenis van Middelburg Rugbyklub, die prestasies van veral die hoërskole, top spelers én skeidsregters wat gelewer is, sowel as die gewilde Nashua Sewesfees by Middies.
Nou spog die dorp ook met ‘n hoë amptenaar in Pumarugbykringe.
Apie Human is tot die vise-president van die Mpumalanga Rugby Unie verkies. En goeie nuus vir veral klubspelers is dat hy hom op amateurrugby wil toespits.
“Ons wil amateurrugby op dieselfde vlak as die professionele vleuel kry. Ons moet ‘n bepaalde visie instel van wat ons wil bereik én hoe ons daarby wil uitkom.”
Een van Human se doelwitte is om te verhoed dat talentvolle spelers vir die provinsie verlore gaan, as gevolg van die “groener weivelde” wat groter unies vir hulle bied.
Hy wil dit doen deur talentvolle spelers reeds van jongs af te identifiseer en hulle dan naskoolse opleiding om hulle in die besigheids- sowel as die rugbywêreld toe te rus.
“Ek wil byvoorbeeld graag sakemane en besighede nader om poste te skep vir spelers sodat hulle ook na rugby ‘n toekoms het.”
Human is ook ‘n ywerige kampvegter vir klubrugby en het hom vir die afgelope paar jare beywer dat die provinsie se klubs vergoeding van die unie kry.
Iets wat in sy voordeel tel, is dat hy al op alle vlakke van rugby betrokke was. In 1984 het hy rammetjierugby in Groblersdal gevestig, terwyl hy die voorsitter van Middelburg en Groblersdal se klubs was. Dan het hy vir twee jaar as streekvoorsitter op die presidentraad gedien.
Human is deur klubs vanuit die Laeveld genomineer en geniet steun vanuit die verskillende streke.
“Ek het nou ‘n verantwoordelikheid om dit te doen waarvoor ek gekies is.”
Afrigting is iets wat hom na aan die hart lê en hy het al sukses met die Pumas se o/21-span geproe.
“Ek sal altyd by afrigting betrokke wil bly, daarom help ek by Middelburg uit.”
As Human sy doelwitte bereik, kan rugby in die provinsie net verder floreer.
• Ampsdraers:
Hein Mentz (president), Apie Human (vise-president) en Louis Koen (adjunkpresident).
Human beklee vir die volgende twee jaar dié amp.
