Sport

Swartes is Assupolkampioen!

As jy ooit lus het om 'n nuwe blaadjie om te slaan na 'n swak vertoning op die sportveld, volg gerus Middelburg Rugbyklub se voorbeeld: hulle het die bloudruk gepatenteer om 'n skitterende ommeswaai te bewerkstellig.

Na ‘n futlose vertoning vroeër die seisoen teen Vaal Reefs op die dorp, het die span van Stoof van Dyk die bordjies behoorlik verhang deur 38-23 op Loftus Versfeld te seëvier. En dit nogal in die eindstryd van die Assupolreeks.

Vaal Reefs het in die eerste kragmeting reeds vroeg-vroeg met 16-0 voorgeloop en Middelburg wou Saterdag die myners in dieselfde munt terugbetaal.

Die Swartes het met ‘n Blitzkrieg vorendag gekom wat die wind heeltemal uit hul teenstanders se seile gehaal het. Die bal is na hartelus vanuit hul eie kwartgebied rondgeslinger, terwyl aanvallende en aanskoulike rugby gespeel is.

Voor die rustydfluitjie kon blaas, het Middelburg reeds met 38-16 voorgeloop.

Met Neil Janse van Rensburg wat weens werk/studieverpligtinge nie kon speel nie, het Jacques ‘Carter’ Kruger op losskakel uitgedraf, met Gerhard Munro wat na heelagter geskuif het.

Munro verkies juis heelagter, terwyl Kruger oor die nodige balverspreiding en oordeel beskik om ‘n suksesvolle losskakel te wees. Die skuif het goed gewerk en Munro is deur die Assupolringkoppe as die speler van die wedstryd aangewys terwyl Kruger en die res van die agterlyn kwalik in die eerste helfte ‘n voet verkeerd gesit het.

Voeg daarby ‘n skitterende Braam van der Merwe voorlangs en jy’t ‘n Middelburgmasjien wat moeilik gestop kon word.

In die tweede helfte kon die span nie verdere punte op die telbord plaas nie, maar die fondasie vir hul sege is só stewig in die eerste helfte gelê dat hulle steeds 38-23 gewen het.

Direk na die afloop van die wedstryd is sjampanjeproppe die lug in geskiet, Van Dyk en Munro is vir die span- en individuele prestasies beloon en daar is behoorlik feesgevier.

Loftus was Swart die naweek gewees.

• Middelburg se tweede span speel vanaand (Vrydagaand) om 19:00 teen Carolina op die dorpsveld. Die eerste span het ‘n afnaweek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button