Sport

Pumas pak Luiperds op dorp

Middelburgers kan hul gereed maak vir 'n katgeveg soos min wanneer die Pumas die Luiperds aanvat. En hierdie keer is dit sommer op ons eie voorstoep!

Dié twee spanne speel Saterdag in ‘n Vodacombekerwedstryd op die Kees Taljaard Stadion – iets wat nie te gereeld gebeur nie. Die Pumas se vyftienmanspan was laas in 2009 in Middelburg in aksie, toe hulle teen Middelburg Rugbyklub in ‘n oefenwedstryd gespeel het. Hul sewesspanne was weliswaar onlangs hier vir die provinsiale klubseweskampioenskap.

Tog is daar ‘n Luiperdspeler – George Tossel – wat Middelburgers goed sal ken. Dan is Dillon Smit ook deesdae in Luiperdwêreld.

Oor Tossel is daar reeds baie geskryf, terwyl Smit HTS Middelburg se kaptein en skrumskakel in 2010 was. Dit was die jaar toe hulle die bordjies te

en Middies in die Classic Clash verhang het. Tossel is deesdae ‘n driedrukmasjien en het onlangs ‘n driekuns van drieë teen die Valke gedruk,

Smit is weer na die afloop van die gewilde Varsitybeker vir die Luiperds se Vodacombekerspan beskikbaar gestel. Hy is egter nie vir hierdie wedstryd oorweeg nie.

Dis veral die stryd in die middeveld tussen Tossel en die Pumas se Hennie Skorbinski (‘n oud-Luiperdspeler) wat ondersteuners gerus kan dophou.

Die twee was nog onlangs sentermaats vir die Mielieboere en behoort mekaar goed te ken. Boonop is hulle van die grootste senters in die land. Skorbinski staan 1.85 meter in sy sokkies en weeg 97 kilogram, terwyl Tossel 1.92 meter lank is en die skaal op 112 kilogram laat kreun – beslis ‘n swaargewigstryd. Agterlangs kan die Pumas se JW Bell, Ruwellyn Isbell en JC Roos dopgehou word. Bell en Isbell vir hul toorkunsies op die aanval en Roos vir sy massiewe skopvoet.

Die Pumas se nommertien is tans die tweede voorste puntemaker in die reeks – net ‘n punt agter die 65 van die Luiperds se Gerhard Nortier.

Beide spanne het momentum aan hul kant met die Pumas wat die Limpopo Bulle 88-0 opgedons het en die Luiperds wat 35-15 teen die Griffons geseëvier het.

Maar die Pumas is na vyf wedstryde nog onoorwonne in die reeks en spog met 22 punte op die punteleer, vyf punte voor die Potchefstromers wat tweede lê.

Voorspelling: die Pumas wen dié een. Al behoort Tossel die toestande baie beter te ken. Hoe dit ook al sy; dit sal lekker wees om die Pumas weer op die Hoëveld te sien!

• Afskoptyd is 15:00 op die Kees Taljaard Stadion.

Pumas: JW Bell, Trompie Pretorius, Wilmaure Louw, Hennie Skorbinski, Ruwellyn Isbell, JC Roos, Snake Nyoka, Renaldo Bothma, Uzair Cassiem, Corné Steenkamp (kaptein), Marius Coetzer, Rudi Mathee, Drew van Coller, Jacques Momberg, Sabelo Nhlapo. Plaasvervangers: Frankie Herne, De-jay Terblanche, Giant Mtyanda, RW Kember, Reynier van Rooyen, Justin van Staden, Bernado Botha.

Luiperds: SW Oosthuizen, AD Jacobs, Sergio Torrens, George Tossel, Rowayne Beukman, Gerhard Nortier, Pieter Smith, SJ Niemand, Robert Kruger, Armand Liebenberg, Brendon Snyman, Molotsi Bouwer, Stoof Bezuidenhout, Edgar Marutlulle, Arno Ebershohn. Plaasvervangers: Jacques Vermaak, Elardus Venter, Danie Jordaan, Jaco Buys, Chriswill September, Justin Botha, Lucian Cupido

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Johann Gresse

Journalist at Middelburg Observer
Back to top button