Sport

Rugbylegende oorlede

Mnr. David Janse van Rensburg is verlede Vrydagoggend as gevolg van diabetes oorlede.

Mnr. Janse van Rensburg en sy vrou, Martie, was woonagtig by Herfsakker in Groblersdal. Die laaste paar maande is hy oorgeplaas na die Loskop Vallei Rusoord, in Marble Hall vir intensiewe versorging. Sy borrelende persoonlikheid het daartoe bygedra dat daar altyd ’n lekker gekuier en gelag onder die bejaardes van Herfsakker was – almal het sy kwinkslae geniet.

Mnr. Janse van Rensburg het voluit gelewe en diep spore in die gemeenskap getrap. Hy is 7 Julie 1937 in Kuruman, Noord-Kaap gebore en in 1970 het hy en sy gesin hulle in Groblersdal gevestig. Mnr. Janse van Rensburg het hom as makelaar by Sanlam beroep, waarna hy later takbestuurder vir Sanlam geword het. Hy het in 1981 Dal Makelaars gestig, waar hy en sy vrou ’n gedugte span was.

Mnr. Janse van Rensburg het baie vir Groblersdal Rugbyklub beteken en het besonderse diep spore getrap waar hy ook vir die klub rugby gespeel het vanaf 1970 tot 1977. Hy was voorsitter van Groblersdal Rugbyklub en later ook president van die klub. Hy het vyf jaar lank vir die Suidoos-Transvaal (Pumas) slot gespeel en het hom ook bekwaam as keurder vir Suidoos-Transvaal rugby. Almal sal sekerlik sy gusteling sê-ding, as slot aan sy opponent onthou, “My bal is my bal en jou bal is ook my bal”.

Mnr. Janse van Rensburg word onthou as ’n beginselvaste mens vir sy kerk, ’n liefdevolle eggenoot, pa en oupa wat altyd tyd gehad het vir sy kleinkinders.

•Die roudiens van mnr. Janse van Rensburg was Donderdag, 10:00, vanuit die AP Kerk Groblersdal.

•Mnr. Janse van Rensburg word oorleef deur sy vrou, Martie, sy vier kinders, Pierre, Dawie, Madelene en Jaco met hul eggenote en sewe kleinkinders.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Caxton Reporter

Caxton Local Media’s readership remains the highest in the communities that it serves. The group has 123 newspapers with representation in the majority of provinces across the country and over 60 community news websites.
Back to top button