VIDEO: Dié blits is terug
Erika Kleinhans is weer terug waar sy hoort: Op die kruin van die atletiekgolf na sy twee spogtye in die 100m-hekkies by die afgelope SA Senior-kampioenskap losgeblits het.
Eers het sy haar persoonlike beste van 13.49 sekondes in die uitdunne behaal, voor sy 13.62 in die finaal gehardloop het – ‘n tyd wat haar die brons medalje in die sak gebring het.
Die uiteinde van die kampioenskap? Haar twee vinnigste tye ooit.
Kleinhans het vir ses weke met ‘n moonboot rondgeloop – die nagevolg van ‘n stresfraktuur in haar voet. “Maar na ‘n paar maande se rehabilitasiewerk het ek ten volle herstel en ook van afrigter (Waldo van Heerden) verander.”
Tog kon sy eers in die middel van 2013 doeltreffend vir vanjaar se seisoen begin voorberei en sy vertel dat sy vir die eerste keer in jare haar sterk punte begin ontgin het.
“Ek het hard gewerk om my hardloopstyl en hekkietegniek te verander sodat ek meer ekonomies kan hardloop.
Ek het dit ook begin kombineer met my kragwerk in die gimnasium.
Hoewel dit nie maklik was om die gewoontes van die afgelope 15 jaar af te leer nie, is ons elke dag nog ‘n tree nader aan ons doelwitte.”
Sy glo ook sy is op ‘n emosionele en geestelike vlak baie sterker as tevore en sy kon die verbetering in haar tye sien.
Kleinhans het die seisoen met ‘n 14.2s afgeskop, dit toe na 13.84 sekondes verbeter en uiteindelik daai 13.49 sekondes by SA’s behaal.
Sien VIDEO hier:
“Ek is meer as tevrede met my tye. Die ding wat my die meeste opgewonde maak, is die feit dat die wenner van die SA’s slegs die week vooraf ‘n persoonlike beste van 13.48 sekondes gehardloop het. Die vinniger tye is dus beslis binne my bereik.”
Sy het reeds vir die Afrika Senior Kampioenskap in Morokko gekwalifiseer, maar wag nog dat die span aangekondig word.
“Intussen is daar die SA Ope in Potchefstroom op 9 en 10 Mei, waarna ek graag wil probeer om in Europa te hardloop om nog ‘n paar byeenkomste in te kry. Met die goeie tye is mens nou éérs lus om te hardloop!”
Dit is egter nie net op die atletiekbaan waar Kleinhans uitblink nie.
Sy werk vir die afgelope twee jaar by Earthworld Argitekte in Pretoria.
“Die werk het sy uitdagings, maar ek weet dat ek in die regte rigting is. My base is ook baie ondersteunend met my atletiekverpligtinge en motiveer my baie. Dit was aanvanklik ‘n aanpassing om elke dag eers na werk te oefen, maar ek is nou gewoond daaraan. Dit is eintlik ‘n voorreg om my twee grootste passies daagliks uit te leef.”
Een ding is seker: 2014 is beslis Erika Kleinhans se jaar!
• Die Classic Clash tussen Hoërskool Middelburg en HTS Middelburg is weer om die draai en as oud-hoofdogter van die Rooies het Kleinhans ‘n spesiale boodskap vir die sportdogters en – seuns wat dié dag deelneem.
“Moet nooit jou drome prysgee nie, al lyk dit soms hoe onmoontlik – NEVER GIVE UP! Die Here gebruik die moeilike tye om jou sterker te maak want dit wat Hy vir jou ingedagte het, is baie groter as wat jy self kan indink. Onthou om elke dag dankie te sê vir die voorreg om sport te beoefen, want die Here het daardie talent vir jou gegee – moet dit nie onder ‘n maatemmer wegsteek nie – gebruik dit om ander se lewens aan te raak en te inspireer!”
• Kleinhans se vorige persoonlike beste in die 100m-hekkies was 13.72 sekondes.
