Groot ‘ja’ vir gholfbaan
Daar was ’n verrassende opkoms van Kranspoort Vakansiedorp eienaars wat die naweek van so ver as Lephalale en Secunda gekom het om te stem oor die behoud van die gholfbaan.
’n Meerderheidstem van altesaam 277 uit 445 eienaars is uitgebring met 168 eienaars wat nie opgedaag het nie.
Van die 277 het 201 vir die oordrag van die gholfbaan na Kranspoort Vakansiedorp gestem terwyl 76 teen die skuif gekant was.
Die groep ontwikkelaars van die vakansiedorp, Groep 12, het die eienaarsvereniging die opsie gegee om die nege putjie gholfbaan oor te neem, maar talle inwoners was so teen die besluit gekant dat ’n spesiale jaarvergadering op regsgronde gekeer is.
Saterdag is die bordjies egter verhang toe eienaars gevra is om bloot ja of nee te stem, sonder enige spreekbeurte wat toegelaat is.

“Die mense is gretig om ons gholfbaan een van die beste nege putjie gholfbane in die land te maak, ons nooi alle gholfspelers om die baan te kom beproef en ’n dag in die bosveld deur te bring,” nooi Gerrit van der Westhuyzen, voorsitter van die Kranspoort Eienaars Komitee.
Teestanders was onder meer besorg oor water, heffingstygings, en regskwessies rakende ’n gholflandgoed wat deur ontwikkelaars op verskeie erwe rondom die gholfbaan beplan en bemark is. Groep 12 besit steeds die erwe en van hulle is reeds verkoop.
Verskeie uitbreidings op bestaande fasiliteite soos die klubhuis, word beplan om die gholfbaan selfonderhoudend te maak en nie ’n wit olifant vir eienaars van Kranspoort te word nie.
“Die uitbreidings sal ’n algehele voordeel vir die gemeenskap en toerismebedryf van die omgewing inhou,” sê mnr. Van der Westhuyzen.
Die eerste toernooi onder nuwe eienaarskap, die gewilde Bos-uitdaag, vind eersdaags plaas en daar is reeds navrae daaroor.
Vir besprekings kan Chris Green by 082 715 6029 gebel word of epos chris.green@webmail.co.za.
