Dis Rooi teen Groen!
Mens kan selfs in vandag se moeilike tye oor dinge opgewonde raak. Soos wanneer jou Wiskunde-onderwyser onverwags tydens die skoolkwartaal op verlof gaan, die mooiste meisie in die klas besluit om haar grondboontjiebotter-en-stroop-broodjies met jou te deel (én te glimlag) of wanneer jou bure se Afrikaanse Stoutgattreffers Volume 49 CD onverwags om 13:41 breek tydens 'n beplande laatnagpartytjie in eksamentyd.
Dan is daar natuurlik ook die Classic Clash tussen HTS Middelburg en Hoërskool Middelburg.
En vanjaar is daar inderdaad baie om oor opgewonde te raak – maak nie saak of jy ‘n groen of rooi trui aantrek nie.
Daar is die ondernemende spel van Barend Smit en die 110% Groen-hart van Marius Verwey; die driedrukvermoë van Driaan Bester (nogal op slot) en die spierkrag van Bennie Mashabane; die skrumstryd tussen die voorrye (HTS laat die skaal op 306 kilogram kreun en Middies op 304 kilogram) en die vasberadenheid van beide spanne om hul ondersteuners trots te maak.
Dan kan die tradisionele ook vanjaar by HTS se Glaskasvenster uitwaai. Middies is alombekend vir hul avontuurlustige spel en hul bereidwilligheid om die bal lekker lug te gee.
Maar vanjaar spog hulle met ‘n paar gróót spelers (dink Duanne van Wyk en Verwey voorlangs, en Cyprian Nkomo en Bennie Mashabane agterlangs) wat nie vir Tegnies hoef terug te staan nie.
Daarteenoor skroom die Rooi Bulle ook nie deesdae om aanvalle te loods nie. In Smit en Jacques du Toit het hulle uiters gevaarlike spelers wat verdedigingslyne kan laat bontstaan.
Voeg hierby die grootte van hul agttal en jy kan sien waarom die span so hoog op Rugby365 se skoolranglys is.
As alles reg verloop, kan toeskouers hul gereedmaak vir ‘n derby soos min.
Die Rooi Bulle is weer die gunsteling, bloot omdat hulle op hul tuisveld speel en al met gerekende spanne (Affies en Monnas) klaargespeel het.
Om twee groot wedstryde na mekaar te speel (hulle was verlede naweek in die TUKS-eindstryd teen EG Jansen), sal egter ‘n strawwe toets van hul karakter wees.
Daarteenoor is Middies uitgerus en honger vir ‘n Classic Clash-sege op die Rooies se tuisveld.
Soos Naas Botha al op SuperSport gesê het: ‘n bal wat bons is enige een se bal. En Saterdag kan die bal letterlik in enige rigting spring.
• Afskoptyd is 12:45 op HTS Middelburg se A-rugbyveld.
Rooi Bulle: Barend Smit (kaptein), Liaan Prinsloo, Jacques du Toit, Ruan Ludick, Jan Rens, Lohan Bennett, Stephan Enslin, Eric Basson, Derik Willemse, Chrisjan Steynberg, Driaan Bester, Dehan Opperman, Kyle van Aswegen, Gerik Mynhardt, Ruan Groenewald. Plaasvervangers: Walter Janse van Rensburg, Steven Stols, Johandré Olckers, Marko Maré, Bernhard Kotzenberg, Christiaan van Rooyen, Brandon Parr-Bailey, Reynard van As.
Middies: Marnus Aucamp, Bennie Mashabane, Telvin Mhlongo, Cyprian Nkomo, Fana Ngwenya, Chris Hanekom, Ruben Roodt, Joshua Mey, Nefdt du Toit, Mpumelelo Mathias, Marius Verwey (kaptein), Phillip Olivier, Duane van Wyk, Jopie Kuhn, Steven Pieterse. Plaasvervangers: Marcel Dique, Dillon Venter, Barrie Viviers, Dewald Coetzee, Charvic Lloyd, Ruben Dhooge, Wian Lombard, Lunga Mahlangu, Zothane Ngcobo.
• Beide spanne was vanjaar al in groot wedstryde betrokke. Middies is die silwermedaljewenners by die PUK Prestigereeks, terwyl die Rooies óók silwer geproe het in die TUKS-reeks.
