Sport

Swartes se ‘Herrmannator’

"Jis, daai Joe is kliphard. Byna soos Terminator" laat een van die toeskouers vanaf die pawiljoen hoor tydens Saterdag se klubderby-kragmeting tussen Middelburg Rugbyklub en Witbank Ferro's.

Dié stelling is gemaak pas na die 21-jarige Joe Herrmann nóg ‘n Ferro-speler gestormloop het dat hy hik. En Middelburgers kan nog baie soortgelyke lopies én duikslae van hom verwag.

Herrmann het verlede jaar terug van Namibië na Suid-Afrika verhuis. Hy het gematrikuleer aan Walvisbaai Privaat Hoërskool, maar omdat hy ‘n Suid-Afrikaanse burger is, was kanse yl gesaai wat nasionale erkenning in die buurland betref.

Terug in die reënboogland het hy vir Tukkies se o/20’s en die Pumas se o/21’s uitgedraf.

“Jip, die groot rugby begin nou eers,” vertel hy Donderdagoggend telefonies.

“Ek wil nie die ou wees wat net ‘n paar o/21-wedstryde gespeel het nie. Mens moet droom en ek wil kyk hoe ver ek met my rugby kan vorder.” Hierdie doelgerigtheid is juis wat sy Puma- en klubafrigter, Apie Human, as sy sterk punt beskryf.

“Joe is ongelooflik doelgerig in sy droom om skitterende rugby te speel. Hy is gedissiplineerd en toon vir seker leierseienskappe.”

Herrmann draf tans op flank uit, maar het op skool haker gespeel. Hy moes die skuif van nommer twee na nommer sewe maak omdat hy te lank in graad elf geword het om in die middel van die skrum te sak.

Tog oorweeg hy ‘n moontlike terugkeer na die hakerposisie, juis omdat daar meer geleenthede in die nommertwee-trui kan wees.

Oefen hy sy plettervatte?

“Ek probeer maar,” is sy laggende antwoord.

Hy beskryf die afgelope Ferro-stryd as sy gunsteling vir Middelburg Rugbyklub – veral omdat daar so ‘n lekker opbou na die wedstryd en ‘n klomp toeskouers was.

“Ek geniet dit baie by die klub!”

Sy ouers speel ook ‘n groot rol in sy loopbaan. “My pa ry nog elke keer van Bronkhorstspruit om na my wedstryde te kom kyk en hoewel my ma nog in Namibië is, het hulle ‘n reuse invloed in my lewe.”

• Middelburg Rugbyklub begin op 28 Junie met hul uitspeelwedstryde wanneer hulle vir SASOL in ‘n wegwedstryd aanvat.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button