Sport

Van Noord in die wolke

Middelburg se skermsweef-maestro, Chris van Noord, is weer terug in die dorp na hy aan twee kampioenskappe in Europa deelgeneem het.

Eerstens het hy algeheel sesde by die Britse Ope klaargemaak. Omdat weersomstandighede in Brittanje nie altyd lekker met skermsweef (paragliding) saamspeel nie, is die kampioenskap in Gemona, Italië gehou.

Volgens Van Noord was die Italiaanse weer ideaal vir die kompetisie en deelnemers het daagliks tussen 66 en 103 kilometer resies gejaag.

‘n Skermsweef-resies kan met die van seiljag vergelyk word. “Ons word met ‘n GPS toegerus en ons hou resies om denkbeeldige draaie in die lug. Die GPS hou dan tred met jou vordering en só word die wenner bepaal.”

Daarna was hy by die Poolse Ope in Tolmin (Slowinië) in aksie. “Ek was 25ste by die kompetisie en sou derde gewees het, maar ek is op die derde dag van die kampioenskap gediskwalifiseer omdat ek 11 meter in lugruim gevlieg het. Ek het dus geen punte vir die dag gekry nie.”

Skermsweef – in leketaal – is heel eenvoudig: jy hardloop van die berg af, mét ‘n valskerm en jaag resies. Die lengte van ‘n resies kan tussen 40 kilometer en 160 kilometer wissel, en by groot byeenkomste kan daar oor die 100 deelnemers wees. Van Noord het by die twee Europese kampioenskappe elke keer teen 150 deelnemers kragte gemeet.

Hy vertel dat hy juis dié twee kompetisies gekies het omdat die sterkste skermsweef-loodse vanaf Europa is – jy neem teen die beste deel en jy kry ook meer punte op die wêreldranglys as daar top-loodse is.

En dit is juis Van Noord se mikpunt om soveel as moontlik punte op te stapel. Die wêreldkampioenskap is in Januarie 2015 in Columbië en na sy goeie vertonings in Europa behoort hy genoeg ranglyspunte te hê om sy plek in die Suid-Afrikaanse span te verseker.

Die sportsoort verg deursettingsvermoë en toewyding. As hy nie aan kampioenskappe deelneem nie, oefen hy en ‘n paar vriende oor naweke.

Volgens Van Noord is die beste skermsweefplekke in Suid-Afrika by Porterville, Barberton en die Magaliesbergreeks.

Soos hy al in ‘n vorige onderhoud gesê het: “Skermsweef is die beste manier om te vlieg.”

En verwag dat hy die verskillende uitdagings wat dié sportsoort hom bied met vlieënde vaandels sal slaag.

• Van Noord is tans tweede in die land. Die Suid-Afrikaanse Kampioenskap is van 29 Junie tot 5 Julie in Barberton.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button