Tweeling vir Tuks
Tydens hul skooljare was Marcia en Marguerite van Wyk 'n tweelingdinamietpak op die hokkieveld.
Hulle het so gereeld soos klokslag hul provinsiale kleure verwerf, doele geskiet vir Afrika en was belangrike skakels in Hoërskool Middelburg se gedugte Predator-hokkiespan.
Nóú word die vennootskap van “Maasie” en “Kriekie” op die astrobane van die stad voortgesit, waar die tweeling deesdae vir Tukkies uitdraf.
“Dit is ‘n baie groot aanpassing vir ons,” sê Marguerite, of te wel Kriekie, oor hul skuif na die stad waar hul buiten hul hokkieverpligtinge, ook besig is met hul onderwysgrade.
“Die tipe hokkie wat hier gespeel word, is anders as waaraan ons gewoond is, maar dit is só lekker!”
Hierdie stelling word deur Marcia beaam.
“Die hokkiespelers hier in die stad is baie tawwer, trouens, die hokkie self is tawwer. Ons speel teen ‘n hoër intensiteit, dis vinniger en ons leer baie nuwe dinge.”
Marguerite speel vir die universiteit se eerste span, terwyl Marcia vir TUKS 2 in aksie is. Hoewel hul paaie vir die universiteitspan geskei het, speel hulle steeds saam vir Northerns se o/21’s. Hulle is ook onlangs vir die unie se senior vrouespan gekies.
Raak die Pretorianers deurmekaar met die Krieke/Maasie-tweelingkombinasie?
“So nou en dan,” is Marcia se antwoord. “Omdat ons so gereeld op die hokkieveld is en so min in die koshuis, kom baie mense nou eers agter dat ons ‘n tweeling is. By die hokkie is die mense dit al egter gewoond.”
Hulle stem altwee saam dat hulle verlede jaar se MHS-span baie mis.
“Annemarie Wilke sal altyd ons nommer een coach bly!”
“Haar nuwe span trap egter in ons spore – hulle het tydens die Mpumalanga-uitspele 19 doele in vier wedstryde aangeteken – dit klink bekend, ne?!”
Hul toekomsplanne?
“Ons werk nog aan ons toekomsplanne,” sê Marcia.
“Al wat ek weet is dat die Here ons geseën het met ‘n wonderlike talent en ons is só dankbaar daarvoor, want ons kan ons droom uitleef op die turf as gevolg van Hom,” voltooi Marguerite hul antwoord.
• Marguerite het op ‘n stadium verlede jaar ‘n verstommende 67 van Middies se 77 doele aangeteken.
