Cravenweek is byna hier!
Opgraderingswerk is gedoen, die speelveld is in 'n uitstekende toestand, akkommodasie is vol bespreek en die spelers is besig om vir oulaas litte los te maak.
Al waarvoor daar nou nog gewag word, is vir die aksie om te begin.
Die 51ste weergawe van die o/18 Cravenweek is om die draai en vanjaar se skoolrugbyskouspel word sommer hier op ons voorstoep gehou. HTS Middelburg speel gasheer vir die land se beste skoolspelers van 13-19 Julie.
Die Pumas se span kom juis later vandeesweek bymekaar vir ‘n oefenkamp en dan is dit maak-of-breek teen die Westelike Provinsie in hul openingswedstryd Maandagmiddag.
Al die wedstryde word ook regstreeks op SuperSport gebeeldsend.
Daar word verwag dat die week ‘n ekonomiese inspuiting van miljoene rande vir die dorp kan beteken.
Dit is veral eetplekke wat hulle beursies volgende week lekker kan aanvul.
Om die geleentheid te vier, plaas die Middelburg Observer ‘n spesiale bylaag in die komende Vrydaguitgawe. Die bylaag sal propvol foto’s, interessante inligting, parkeerreëlings, toegangsgeld en vele meer wees.
Lek maar solank jul lippe af, die Cravenweekhoofdis beloof om beter as enige restaurant s’n te wees.
Pumas: Barend Smit (HTS Middelburg), Mfundo Ndlovu (Standerton), Telvin Mhlongo (Hoërskool Middelburg), Cyprian Nkomo (Hoërskool Middelburg), Siyabonga Nkosi (Piet Retief), Muller Joubert (Ligbron), Stephan Enslin (HTS Middelburg), Oscar Schuld (Nelspruit), Bernhard Kotzenburg (HTS Middelburg), Chrisjan Steynberg (HTS Middelburg), Driaan Bester (HTS Middelburg), Roelf Joubert (Standerton), Wiehan Steyn (Nelspruit), Marthinus Enslin (Nelspruit), Bheki Shongwe (Barberton). Plaasvervangers: Marnus van der Merwe (Nelspruit), Cauwen Mashaba (General Hertzog), Ruan Groenewald (HTS Middelburg), Ariaan le Roux (Nelpsruit), Mpumelelo Matias (Hoërskool Middelburg), Siyabonga
Masuku (Piet Retief), Siyabonga Khaliswhayo (Piet Retief).
